Local news

Plantdiewe is ’n ‘doring’ in die vlees van Moth Cottages

‘Jy kan eerder kom vra vir ’n stiggie van ’n plant as wat jy jouself help,’ het bestuurder van Moth Cottages, me. Bettie Grové, gesê.

Min sal jy hoor dat mense sê hulle hou nie van rose nie, en dit lyk asof diewe in eMalahleni dié siening deel toe hulle na bewering roosbome uit Moth Cottages se tuine geruk en gesteel het.

Meeste is bekend met die gesegde om lang vingers te hê, maar vermeende diewe in eMalahleni grou dié gesegde verder en kombineer dit met ’n ander een ‒ om groen lang vingers te hê.

Dit is ’n skok wat dit self tuis gemaak het in die tuine van die Moth Cottages.

Opsigter van Moth Cottages, mnr. Chris Steynberg, het vertel dat die vermeende diewe op 29 November ongeveer R2 000 se skade aangerig het toe hulle roosbome uitgeruk en gesteel het.

Die gate wat agtergelaat is, is genoeg om enigiemand ‘gat’-vol te laat voel, maar dit stop nie daar nie.

“Die stukke van die bome wat hulle nie wou hê nie, is agtergelaat,” het Steynberg vertel.

 

“Min weet dié wat die bome steel, dat jy ’n roosboom reg moet uithaal, anders gaan hy nie weer groei wanneer jy hom plant nie,” het Steynberg gesê.

Alhoewel die vermeende diewe se bome dalk nie weer sal groei nie, vergoed dit nie vir die skade wat die Moth Cottages lei nie.

Steynberg het vertel dat die Moth Cottages nie vergoeding ontvang vir die tuine nie en dat hulle heeltemal afhanklik is van donasies.

Diewe is blykbaar nie net agter die rose aan in die tuin nie.

Steynberg het vertel dat daar ongeveer twee weke gelede nog ’n vermeende dief was wat Kanna-blomme probeer steel het.

Hy het vertel dat hy na die man gegaan het en vra wat hy doen.

Sy antwoord was dat hy dit wil gebruik vir medisyne.

Bestuurder van Moth Cottages, me. Bettie Grové, vra dat die bome en plante asseblief uitgelos word.

“Ons werk hard om fondse bymekaar te maak en die fondse kom van bejaardes. Jy kan eerder kom vra vir ’n stiggie van ’n plant as wat jy jouself help,” het sy gesê.

Gemeenskapslede word gewaarsku om op hul hoede te wees vir diewe wat blykbaar die Kersseisoen met Valentynsdag verwar.

 

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

 

 

 

Back to top button