Local newsNews

Sluit ’n oomblik jou oë en luister

Wat is jou gunsteling geluid in die wêreld?

Wanneer laas het jy jou oë toegemaak en die geluide om jou opgeslurp?

Het jy geweet as jy jou oë toemaak, hoor jy die geluide helderder?

Dis ’n oefening wat ek verlede week gedoen het by die huis en sommer so in my ‘Kalahari-Ferrari’ op pad werk toe.

Dit het begin toe die water weereens opgedroog het.

Ek het my oë vir ’n oomblik gesluit om diep asem te haal en nie te vloek nie, toe ek die geroggel van die kraan wat kug van al die lug in sy pype hoor.

Dit was die begin van my oggend se simfonie-orkes.

By die verkeerslig het ek beide my vensters oopgedraai en my oë gesluit.

Gevaarlik– jy bly in Emmawillielênie en hier sluit jy alles, selfs jou vensters, maar tot my verdediging was daar niemand in sig nie en hier is wat ek ervaar het……

Taxi’s se toeters het die ritme verskaf, iewers het iemand ’n slaggat getref en ek kon duidelik die ‘doef’ en die kar suspensie se gekreun hoor.

Vanuit ’n ander hoek het ’n kar se remme ’n ander deuntjie gesing by ’n verkeerslig wat al weer nie werk nie.

Weereens ’n slaggat-doef en suspensie kreun.

Skielik breek ’n stem deur op Zello en vra hulp en ’n ambulans.

Sirenes vul die lug en ook die spasies tussen die toeters.

’n Mamma op pad skool toe met haar kroos stop naby my en ek hoor duidelik hoe sy oor die selfoon klets.

Met my oë nog toe stuur ek ’n skietgebedjie op en vra dat die kinders veilig by die skool kom.

’n Vraag aan die Engelsman later die aand het my laat besef dat dit beter is om ongekompliseerd te leef en nie té veel detail te verwag as ’n man ’n lang dag agter die rug het nie.

Ek het gevra wat is sy gunsteling geluid in die wêreld? Sy antwoord was wat die meeste Adams tien teen een sou antwoord. “My visstok met ’n bielie van ’n vis aan wat die polka doen met my lyn.”

Nodeloos om te sê, toe ek hoor hoe sy ‘eish’ in sy glasie rinkel het ek besef dis hoe ek my dag wil afsluit met die lag en gesels van my hartsmense wat my siel aanmekaarvleg.

Deel jou nuusbrokkies met ons per Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button