Local newsNews

Vyf jaar se lyding met Cavernoma en steeds veg Steyn

Steyn ly ook aan epilepsie weens die Cavernoma.

Vir die 49-jarige Steyn Prinsloo is elke dag ’n uitdaging as gevolg van ’n siekte wat sy lewe oorgeneem het, maar hy veg dapper voort en glo dat hy eendag weer sy ‘ou’ lewe sal terugkry.

Steyn, ’n oud-leerder van die Hoër Tegniese Skool, ly die afgelope vyf jaar aan Cavernoma.

Cavernoma is ’n groep abnormale bloedvate wat gewoonlik in die brein en rugmurg voorkom em staan ook bekend as ‘cavernous angiomas,’ ‘cavernous hemangiomas,’ of serebrale ‘cavernous misformation’ (CCM). ʼn Tipiese kavernoom lyk soos ʼn framboos. Dit is gevul met bloed wat stadig deur vate vloei wat in grootte kan wissel van ’n paar millimeter tot ’n paar sentimeter in deursnee.

“Ek en my man is in Augustus 2009 getroud toe die duister pad van Cavernoma sy kop begin uitsteek het. Daar was toe al simptome, maar dit is mis-gediagnoseer vir ’n wyle. My man is in 2017 met Cavernoma in die brein en rugmurg gediagnoseer en hy is sedertdien verlam. Hy was amper ’n jaar sonder werk en het in Februarie 2017 weer begin werk. Hulle het klomp toerusting geskuif waarna hy begin kla het oor rugpyn. Ons was twee of drie keer met dit dokter toe, maar dit was elke keer ’n spier wat hy seergemaak het. Intussen het hy weer van sy ou simptome wat hy voor 2009 vir ’n aantal jare ervaar het ondervind en dit het net vererger,” het me. Martie Prinsloo verduidelik.

Steyn ly ook aan epilepsie weens die Cavernoma.

“Hy het veelvuldige komplikasies en word gereeld in die hospitaal opgeneem of moet ʼn spesialis of algemene praktisyn sien. Hy het ’n breinoperasie gehad toe hy 10 jaar oud was om ʼn AVM in die linker frontale lob te verwyder. Dit het ná ’n jaar teruggeroei. Dit het ook geblyk ʼn kavernoom te wees. In 2017 het hy ʼn kavernoom van die rugmurg laat verwyder. Hy het ses kavernome in die brein en twee in die rugmurg,” het Martie bygevoeg.

“Alhoewel my man ongelooflik positief probeer bly, is daar dae wat dit uiters moeilik is vir beide van ons. Hy is moeg om pille te drink en dan ook finansiële stres wat saam hierdie hele siekte gaan, maak ons maar moeg,” het sy hartseer vertel.

Die egpaar het ’n 11-jarige seun, wat sy pappa bystaan deur al die trauma waardeer hy daagliks worstel.

WITBANK NUUS het aan haar gevra hoe hulle tot op hede so positief bly oor die diagnose en sy het met trots gesê,

“deur die genade van God. Sonder Hom en ons familie, sou ons werklik nie so oopkop en kalm gewees het nie. Ek is deel van ’n wonderlike Bybelstudiegroep en hulle speel ook ’n groot rol.”

Steyn is ook vas oortuig dat hy hiérdie siekte gaan oorwin en eendag weer sal loop.


 Share your news tips via:

Telephone: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Email: info@witbanknews.co.za

Or follow us on WITBANK NEWS platforms:

InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button