Local newsNews

Permit gee gesteelde bakkie weg

’n Gesteelde bakkie is teruggevind nadat inwoners onraad vermoed en daaroor gekla het.

“Kan jy nou glo?” was die verbaasde woorde van mnr. Nick Norval toe sy pa se bakkie wat 10 maande terug in Centurion gesteel was, teruggevind is.

Die silwer Toyota Hilux is in April verlede jaar in Centurion gesteel en Sondag, 6 Februarie in eMalahleni teruggevind.

“Ons het inligting opgevolg toe ’n bakkie in Reynorif verdag gelyk het omdat die eienaar steeds met permitte agter op die bakkie se venster gery het wat in Oktober reeds verval het,” het mnr. Hendri Appelgryn van Paratus Enterprises, ’n plaaslike opsporingsmaatskappy, gesê.

Appelgryn het met verdere ondersoek vasgestel dat die bakkie ’n ou vin-nommer en nommerplaat op het.

“Ons het die bakkie getoets en dit het uitgekom op ’n wit Toyota Hilux. Net daar het ons geweet die bakkie is gesteel,” het Appelgryn vertel.

Norval het vertel sy pa het die bakkie by hulle eetplek in Centurion parkeer om goedere af te laai. Dit het die diewe slegs ses minute gevat om die bakkie te steel.

“Binne die paar minute was die opsporingstoestel verwyder en die bakkie was skoonveld. Daar was geen gebreekte glas op die toneel nie. Dié diewe was baie professioneel,” het Norval gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder kaptein Eddie Hall het gesê dié voertuig word nou ter beurt verklaar aan die staat.

“Die koper trek aan die kortste end want hy gaan nou al die geld verloor waarmee hy die bakkie gekoop het,” het Hall gesê.

 

Hy los voornemende kopers met ’n wenk: “Wanneer jy ’n tweedehandse voertuig koop, gaan eers na die klaringskantoor om seker te maak die voertuig is nie as gesteel aangemeld nie. Maak ook seker die kar se papiere is oorspronklik.”

Die polisie se voertuigondersoekeenheid van KwaMhlanga gaan dié saak verder ondersoek.

Deel jou opinie met ons op:

WhatsApp: 060 866 8682

Email: info@witbanknews.co.za

Of op ons sosiale platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

 

 

Back to top button