Local newsNews

Die Zeelie’s sê ‘koebaai’ uit Jeffreysbaai, na jare in onderwys

Geliefde onderwys egpaar, die Zeelie's het die klaskamers verruil vir 'n huisie by die see.

Die Zeelie’s is alombekend in eMalaheni as dit kom by die onderwysbedryf.

Hordes kinders en dié se kinders het deur die twee bekwame onderwysers se klaskamers en onderrig gegaan.

Nou na bykans 40 jaar in onderwys sê Pieter en Ula Zeelie totsiens aan vriende, oud-leerlinge en jarelange kollegas.

“Ons het as twee jong onervare onderwysertjies ingestap by Hoërskool Piet Retief as ’n getroude paartjie wat die knoop deurgehaak het net nadat ons studies voltooi is in 1980. Ja, ons was ’n verliefde paartjie al vanaf ons studentejare,” het Pieter vertel van hom en sy geliefde vrou, Ula.

En vandag is dié briljante onderwyserpaartjie amper al 41 jaar getroud.

WITBANK NUUS het die egpaar gevra wat hul besiel het om in die onderwysberoep te kies en vir soveel jare aangegaan het met die beroep. “Onderwys is ’n roeping en nie ’n beroep nie. Dit verg spesiale mense om onderwysers te wees,” het Pieter gesê.

Hulle meen dat onderwysers veels meer as net klas en onderrig toepas in ’n kind se lewe.

“As onderwyser moet jy nie net onderrig nie, jy moet opvoed, sielkundige wees, verpleeg, versorg, pa en ma wees. Onderwysers het super magte. Ouer begeleiding en huweliksberading is ook soms nodig.”

Die egpaar het nie net by een skool in eMalahleni ’n verskil gemaak nie, maar by talle van die plaaslike skole.

“Ek was bykans 40 jaar in die onderwys. Ek het onder andere skool gegee by WH de Klerk vir vier jaar, Laerskool Klipfontein vir drie jaar en toe vir 28 jaar by Laerskool Kragbron. My laaste jaar en ’n half voor aftrede was ek verbonde aan Witbank Christian Academy,” het Pieter gesê.

Ula was verbonde aan Laerskool Ogies, Hoërskool Reynopark, Laerskool Kragbron en die meerderheid van tyd by Robert Carruthers School.

Pieter en Ula se dogter en seun het ook beide in hul ouers se voetspore gevolg en ook hul passie op die skoolbanke gevind.

“Christna en haar man Liaan is onderwysers by Laerskool Kragbron en Pieter Junior is by Laerskool Klipfontein,” het Ula bygelas.

Die Zeelie’s is vreeslik opgewonde oor hul aftrede-avontuur en meen dat hulle dit gate uit gaan geniet in Jeffreysbaai,  maar die mense van eMalahleni baie mis.

“Baie dankie aan almal wat ons deur die lewe help slyp en vorm het tot die mense wat ons vandag is, dit was ’n voorreg om deel van die Witbank-gemeenskap te wees en laastens wil ons net alle eer aan ons Skepper gee wat alles moontlik gemaak het,” is dankbaar ten slotte gesê.

WITBANK NUUS het hulle gevra om ’n laaste stukkie raad en wysheid aan onderwysers en ouers te gee:

Aan onderwysers:

Behandel almal met respek en eerlikheid. Wees konsekwent in jou optrede en dieselfde sal na jou terugkom.

Raad aan ouers:

Moenie alles glo wat jou kind vir jou by die huis vertel nie, dan sal die onderwyser ook nie alles glo wat ons van jou kind hoor wat by die huis gebeur nie.

Liefde die Zeelie’s

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram Twitter Witbank News toep Facebook page Witbank News Breaking

 

 

Back to top button