Local newsNews

Ouers van eMalahleni het steeds ‘Faith’ na longkanker by hul dogtertjie (4) gediagnoseer is

Die diagnose van longkanker was ’n week voor haar derde verjaarsdag gemaak en op 19 Mei 2020 is die gewas en gedeelte van haar longetjie verwyder. 

In Desember 2020 het WITBANK NUUS die verhaal gedeel van Faith Bothma, toe drie jaar oud, wat na drie maande se verkoue-simptome en vele doktersbesoeke in Mei dieselfde jaar met ‘pulmonale blastoom’ (longkanker) gediagnoseer is.

Die diagnose was ’n week voor haar derde verjaarsdag gemaak en op 19 Mei is die gewas en gedeelte van haar longetjie verwyder.

Faith het chemoterapie-behandeling ontvang tussen 5 Junie, 2020 tot 4 Januarie hierdie jaar.

“Sy was elke maand vir ’n week in die hospitaal vir chemoterapie en soms langer weens komplikasies,” het Faith se mamma, Yolande, vertel.

Op 8 Februarie is ’n laaste skandering gedoen en haar onkoloog het gesê dat die woelwater in remissie is.

Vreugdevure het hoog gebrand en lofprysing was op almal se lippe vir die wonderwerk van haar genesing.

Maar, in April vanjaar het Faith vir ’n paar dae van hoofpyn en naarheid begin kla en haar huisdokter het die simptome behandel.

“Sy het egter al hoe slegter begin voel en op die aand van 28 April is sy in eMalahleni Private Hospitaal opgeneem nadat sy begin  hallusineer en stuipe gekry het. Die MRI skandering het breinswelling en drie massas in die brein getoon. Op 29 April is  sy per ambulans na Unitas hospitaal oorgeplaas waar ’n verpletterende diagnose van drie breingewasse bevestig is,” het Yolande verder vertel.

Die onkoloog het twee opsies aan die ouers verduidelik ten opsigte van Faith se behandeling: neem haar huis toe en doen niks weens die hoë risiko van die chirurgie of neem ’n geloofstap om die gewasse te verwyder.

“Dit was ’n bitter moeilike besluit vir ons as ouers, maar ons geloof is groot en op 6 Mei is een van die gewasse suksesvol verwyder,” het sy bygelas.

Weens die grootte van die gewas, erge bloeding en die ses uur lange operasie is die tweede chirurgie uitgestel vir ’n paar dae en kon sy huis toe vir die naweek, om haar vierde verjaarsdag te vier.

“In die paar dae by die huis het die tweede gewas vergroot en erge drukking op haar brein veroorsaak en op 20 Mei is die tweede gewas verwyder, maar die derde een was onbereikbaar om chirurgies te verwyder,” het Yolande gesê.

Die derde gewas is met bestraling by Milpark Hospitaal in Randburg behandel.

“Faith was maar die tweede kind wat die tipe behandeling ontvang het in die Gamma Ray Chamber,” het mamma ook vertel.

Haar opvolg skandering vind op 8 September plaas en alle hoop en gebede is steeds daarop gerig dat Faith, wat die “Warrior Princess” genoem word, ten volle genees is.

“Die afgelope 15 maande was ’n vermoeiende liggaamlike, emosionele en geestelike stryd vir Faith en ons,” het sy ook gesê.

Faith se mamma het MS maar het lang dae en weke getrou saam met haar prinsessie in die hospitaal deurgebring op ’n slaapbank.

Die mediese kostes het in 2020 reeds oor die R1.4miljoen beloop waarvan die ouers ’n derde self moes betaal, uitsluitend reis- en verblyfkostes.

Hierdie jaar is ook geen uitsondering nie en met die Bothma’s se mediese fonds reeds uitgeput stroom die rekeninge steeds in. Indien enige engel dit in sy of haar hart kan vind om enige bydrae te maak tot Faith se kankerbystandsfonds, volg haar reis op haar sosiale mediablad vir meer inligting op Facebook @ Faith’s Cancer Fundraiser.

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram Twitter Witbank News toep Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button