BlogsEditor's noteOpinion

Vra die Kapenaars

Ek hoef dit nie eers te sê nie, almal voel die geniepsige winterkoue wat sy handjies nou mooi om ons gevou het.

Uit is die serpe, jasse en verwarmers.

Ek is een van die gelukkiges wat ‘n vuurherd het en die Engelsman stook daardie herd elke aand, terwyl ons ‘n ‘warmmaak-knertsie’ geniet.

So vertel hy my dié grappie wat ek doodeenvoudig net met julle moet deel.

Hy vertel dat die Boesmans da doe ver in die Kalahari ‘n nuwe stamhoof aangestel het. Hulle vra hom toe of hy kan voorspel of die winter matig of ekstra koud gaan word.

Omdat hy stamhoof is in meer moderne tye, het hy nooit die ou geheime geleer nie. Wanneer hy die lug bestudeer, kon hy nie voorspel hoe die winter gaan wees nie. Maar hy het ‘n ‘geheime’ wapen, ‘n Nokia Lumia wat glad kan Google ook. Die man met ‘n plan Google die weerburo se nommer, skakel hulle en vra of dié winter in die Kalahari koud, meer koud of ekstra koud gaan wees.

“Ja, dit lyk so.” bevestig die een wat geantwoord het.

Die stamhoof roep ‘n noodvergadering en gee die instruksie dat meer hout bymekaar gemaak moet word.

‘n Paar dae later skakel hy weer en vra of die weerpatroon intussen verander het, of gaan dit steeds ‘n koue winter wees. Die man aan die ander kant bevestig dit gaan verskriklik koud wees.

Die stamhoof gaan terug en beveel hulle om elke stukkie hout wat hulle kan vind, op te tel.

Na twee weke skakel hy weer en vra of hulle seker is dit gaan ‘n koue winter wees.

“Absoluut” kom die antwoord, “dit lyk al hoe meer of dit een van die koudste winters ooit gaan wees.”

Die stamhoof word bekommerd en vra hoe kan hulle so seker wees van hul saak.

“Ons satellietfoto’s wys die Boesmans maak verwoed hout bymekaar, en hulle is nooit verkeerd nie!” is die antwoord wat die stamhoof heeltemal onkant gevang het.

Net daar het die Engelsman sy selfoon en hy skakel ‘n familielid wat in die hartjie van die Kaap bly en vra of sy ekstra jasse en komberse aangekoop het vir die winter.

Of sy nou ekstra komberse en jasse aangekoop het of nie, koud bly koud. En wat my bekommer is die koue wat maak dat waterpype bars en meer elektrisiteit verbruik word. Maak maar seker julle watertenks en kragopwekkers is op ‘stand-by’ dié gaan nog ‘n trietsige en lang winter wees.

Back to top button