Local newsNews

Naauwpoort inwoners sê dankie nadat munisipaliteit inspring

Janie Opperman skryf:

Janie Opperman skryf:

 

Namens die inwoners van Naauwpoort, wil ons dank betoon aan die munisipaliteit vir die hulp om die area skoon te maak na talle inwoners onwettig bourommel, tuinvullis en huisvullis kom stort het in ons area.

Ons sukkel geweldig al ʼn lang ruk om die onwettige stortingsprobleem op te los.

Mense dink dis ʼn stortingsterrein en al wys jy hulle uit dat dit nie is nie, gaan hul net voort en baie sal sê ‘wie gaan ons keer’ of ‘wat gaan jy daaraan doen’. Selfs besighede is al gevang hul vullis hier weggooi!

Met die hulp van die inwoners van die area en die munisipaliteit, hoop ons om die probleem permanent te stop.

Wanneer daar iemand onwettig vullis weggooi, neem ons foto’s daarvan en ’n duidelike foto van die voertuig se registrasie. Dit word dan gestuur aan die munisipaliteit en daar word ’n R1 000 boete aan daardie eienaar gegee.

Ons vertrou dat dit wel die mense sal laat twee keer dink voor hulle weer hier hulle vuilgoed weggooi!

Ons wil spesiaal die munisipaliteit bedank vir hul hulp. Hulle het in Desember verlede jaar regtig baie moeite gedoen om die vullis op te ruim. Ongelukkig was daar mense wat dadelik weer kom huis- en tuinvullis weggooi het.

Ons wil ook die gemeenskap van Naauwpoort area bedank, dat hul altyd probeer help keer dat die stortings plaasvind.

Saam sal ons dit veg tot mense besef ons pragtige area is nie ’n stortingsterrein nie!

Ons is trots op ons area en wil dit weer so mooi skoon hê soos dit altyd was.

Baie dankie aan Zita Goldswain wat keer op keer vir ons help met bewusmaking van die probleem deur artikels te plaas in die WITBANK NUUS. Ons weet hoe meer mense die artikels sien, hoe meer sal weet dat ons area nie ʼn stortingsterrein is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button