Local newsNewsBreaking News

Legende in plaaslike motorhandelbedryf sterf

Die vriendelike gesig van me. Dot Nortje by Eastvaal Ford het vir baie jare ’n pad saam met haar kliënte geloop en sy het nooit gehuiwer om te ‘baklei’ vir ’n beter rentekoers of afslag nie. Dot is Dinsdag 19 Januarie aan ’n hartaanval dood nadat sy vroeër positief getoets het vir Covid-19.

Huldeblyke stroom in na die dood van ’n legende in die plaaslike motorhandelbedryf. Me. Dot Nortje (60) is Dinsdag 19 Januarie aan ’n hartaanval dood nadat sy vroeër positief getoets het vir Covid-19. Die vriendelike gesig by Eastvaal Ford het vir baie jare ’n pad saam met haar kliënte geloop en sy het nooit gehuiwer om te ‘baklei’ vir ’n beter rentekoers of afslag nie. Dot het in 1985 by Eastvaal begin werk toe die motorhandelaar nog in die destydse Voortrekkerstraat geleë was. Sy was die afgelope 16 jaar by die nuwe gebou in Mandelastraat werksaam. Dot se kleinseun, mnr. Raytun Willemse, het gesê dis moeilik om sy ouma sy liefdes in die lewe en haar passies in een sinnetjie te beskryf.

“Sy was enig in haar soort. Ouma se passie was haar kinders en haar kleinkinders. Haar liefde vir haar plot kan boekdele oor geskryf word. Sy was so lief vir diere en voëls. Sy het altyd seker gemaak een of ander voël slaap in die kombuis sodat sy net in die oggende kon inwals en vrolik ‘môre’ sê.”

Raytun het ook gesê Dot se werk was nog een van haar passies.

“Ouma het elke oggend met ’n glimlag opgestaan en reggemaak vir werk. Sy is die enigste vrou wat ek ken wat tot laat in die aande sou werk en môre weer opgewek werk toe ry, sonder om te kla.”

Die familie maak van die geleentheid gebruik om almal te bedank vir hulle oproepe, boodskappe en gebede.

“Ons wil graag dankie sê aan almal vir die ondersteuning, dit beteken vir ons baie. Ons wil graag net ook in besonder dankie sê aan Eastvaal Ford, mnr. Clive Blechman wat so ’n mooi brief geskryf en gestuur het aan Ouma se Eastvaal-familie.”

Mnr. Blechman het Dot beskryf as die een persoon wat altyd die onmoontlike reggekry het.

“Dot het altyd die ekstra myl geloop en was altyd gereed om te help. Haar toegewydheid was so waardevol. Deur hierdie tyd het haar borrelende en vriendelike  persoonlikheid dit makliker gemaak vir ons almal. Ek het altyd uitgesien om haar warm glimlag te sien. Een van Dot se karaktereienskappe wat ek nooit sal vergeet nie is dat sy altyd gewillig was om te help, en sy het dit met die grootste liefde en geduld gedoen. Die leemte wat Dot agterlaat is amper onmoontlik om te vul. Ons gaan haar verskriklik baie mis in die Eastvaal-familie.”

Geen begrafnisreëlings was teen Woensdag, 20 Januarie nog nie getref nie, maar sal streng volgens Covid-19 regulasies geskied.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page 

Share your news tip with us on WhatsApp – 060 866 8682

Back to top button