CrimeNews

Huisinbrake blom saam die lente

Hulle het meer as R100 000 se skade gely met hierdie boewe se uitstappie

Die Van Sittert-gesin is rot en kaal besteel van al hul goedere in ’n groot stoorkamer op hul kleinhoewe en dit sonder enige geluid of sig van die booswigte.

Op 15 Oktober net na mnr. Arend van Sittert by sy woning gery het werk toe, het hy ’n oproep van sy skoonma gekry om te sê dat een van hul geliefde hondjies nie lekker lyk nie.

“Die oggend toe ek opstaan het niks verdag gelyk nie en oudergewoonte is ek reguit werk toe. Dis toe my skoonma my bel en die nuus van my hondjie oordra wat ek in my binneste geweet het iets is nie pluis nie,” het Van Sittert vertel.

Toe hy terugkeer huis toe het hy ook dadelik opgelet dat sy klein Jack Russell vreeslik tam en kort van asem is.

“Ek het haar dadelik na hul eetplek gevat en sy het begin eet. Sy het enkele minute na sy geëet het, alles weer opgegooi en net gaan neerval by die waterbak. Ek het gehaas na die veearts toe en Maureen Scheepers gebel van die SACCW,” het hy bygelas.

Aangesien die gesin op ’n groot kleinhoewe woon, is daar nie dadelik ontdek dat daar wel iets gebeur het in die vroeë oggendure nie.

“Dis toe ek weer terugkeer van die veearts af toe ek my skoonpa en die lede van SACCW buite sien staan wat ek besef het dat daar wel iets verkeerd is. Met verdere ondersoek het ons agtergekom dat nie net ons hond vergiftig is nie, maar dat ons ook rot en kaal besteel is,” het hy bygelas.

Hoe meer die gesin deur die kleinhoewe gestap het, hoe meer tekens was daar dat daar wel ’n voertuig ook gebruik is om hul só te besteel.

“Hulle moes weet wat hier aangaan, want hulle was so selektief oor wat gesteel is. Ek het meer as R100 000 se skade gely met hierdie boewe se uitstappie. Gelukkig is my hond ongedeerd te danke aan ons wonderlike veearts,” het hy gesê.

Daar is naby die hek van die toneel ’n mes gevind wat ook baie vreemd vir Van Sittert was, aangesien hy die mes tevore gesien het ’n hele paar maande terug, maar toe soos ’n groot speld verdwyn het.

“Na al die maande en dis net toevallig na die inbraak wat ek die mes weer sien, dit is vir my verby snaaks.”

Die gesin is al klaar besig met nog sekuriteitsmaatreëls in plek te stel om hul woning veiliger te maak.

“Daar is nie ’n prys wat ek nie sal betaal om my geliefdes veilig te hou nie,” het hy ten slotte gesê.

Back to top button