CrimeNews

Rowers breek muur af om in te kom

Die vierde rower is verby me. Cronje, wat eenkant gestaan en probeer bel het vir hulp, in die gang af na die egpaar se kamer toe waar hy die bedkassie uitgegooi het

Tussen hardop gebede het ’n pastoor van Middelburg se Lighuis Gemeente meedoënlose houe probeer afweer tydens ’n inbraak verlede week.

Pastoor Fanie Cronje het met oë wat blink van emosie vertel hoe hy die rowers wat Vrydag omstreeks 02:20 in sy huis in Uitbreiding 10 ingekom het, van sy vrou, Loraine, probeer weghou het.

“Ons het nie gehoor toe die rowers die baksteenmuur afgebreek het nie. Ek is seker hulle het dit baksteen vir baksteen afgebreek. Eers toe hulle die veiligheidshek oopbreek en ons Jack Russell opgewonde begin blaf, het Loraine wakker geword en gaan kyk waar die geluid vandaan kom.”

Me. Cronje het eers by hulle kamervenster uitgekyk, maar niks snaaks gesien nie.

Toe sy stemme by die voordeur hoor en by die venster langs die voordeur uitkyk, het sy  in die gesig van een van die rowers vasgekyk.

Binne sekondes was hulle besig om die voordeur oop te breek.

Pastoor Cronje het intussen wakker geword en van binnekant af teen die deur geslaan om die rowers weg te jaag.

Soos die rowers een vir een deur die gat by die voordeur wriemel het hy hulle met ’n ronde staaf yster (round bar) bygedam in ’n poging om hulle af te skrik.

In ’n oogwink was al vier in die sitkamer.

Pastoor Cronje het ’n skoot gehoor en hardop begin bid, “My Here, vandag moet U ons help!”.

Hy het gehoor hoe die vuurwapen kliek, maar ’n tweede skoot het nie afgegaan nie.

“Die rower het my met die einste vuurwapen oor die kop geslaan terwyl twee my slaan en skop.”

Die vierde rower is verby me. Cronje, wat eenkant gestaan en probeer bel het vir hulp, in die gang af na die egpaar se kamer toe waar hy die bedkassie uitgegooi het.

“My brein wou nie funksioneer nie. Ek kon geen nommer onthou nie en het net na die selfoon gestaar, terwyl ek Fanie se gebede bo al die ander geluide hoor opklink het.”

Me. Cronje het dit reggekry om die agterdeur oop te kry en het buite geskree in die hoop dat iemand haar hoor.

Een van die rowers het agter haar aangehardloop en hardhandig in die kombuis in teruggeruk.

Die stuk yster waarmee die pastoor die rowers probeer afweer het, het uit sy hand geglip en geval.

Een van die rowers het die stuk yster opgetel en hom begin slaan, terwyl ’n ander een hom met ’n stuk hout van die afgebreekte deur oor die kop geslaan het.

Hy het alles probeer om nie sy bewussyn te verloor nie.

Me. Cronje het probeer om hulle weg te kry van haar bloeiende man af en die rowers begin terugslaan.

In die proses is sy ook oor die kop geslaan.

“Terwyl alles stadig voor my afspeel, het Fanie se gebede net harder geword. Skielik was dit asof twee van die rowers wegsteier. Dit het gelyk asof hulle teen ’n onsigbare muur vasloop. Hulle het net verbaas na mekaar gekyk. Ek weet nie of God se engele of God Sy hand tussen Fanie en hulle gesit het nie”.

Me. Cronje het vertel dat die rowers met mekaar gepraat het, haar selfoon uit haar hand en ook die plasma televisie gegryp het.

“Ek weet nie hoe op aarde hulle deur die gat is met die televisie nie.”

Die egpaar bly al nege jaar in die huis en dit is nie die eerste keer dat daar by hulle ingebreek is nie.

In Maart het past. Cronje lemmetjiesdraad bo-op sy bestaande lemmetjiesdraad gesit na ’n mislukte gewapende rooftog.

“Ons was al voorheen deel van die inbraakstatistiek. Maar dié keer was iets soos uit ’n rolprent. Ek kry hoendervleis as ek dink aan hoe dit kon uitgedraai het. Ek en Loraine het elkeen ses steke aan ons koppe gekry. Dit kon soveel erger gewees het.”

Past. Cronje se hande het begin bewe en die trek om sy mond het vertel hy sukkel om sy emosies te beheer.

“Ons kon dood gewees het. Ek maak my oë toe en sien die lyke van boere op plase, hulle bloed wat in die gang afsypel, gruwelike tonele wat ’n alledaagse norm geword het. Dis wanneer ek weereens besef hoe groot my God is. Alle eer gaan aan Hom wat my en Loraine Vrydagoggend beskerm het”.

Die egpaar het weereens die sekuriteit by hul huis opgeskerp en die hek so bewimpel dat dit nie van die spoor afgelig kan word nie.

Die veiligheidshekke het ook versterkings in en hulle het ook ’n veiligheidshek in die gang wat na hulle kamer lei, ingesit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button