LettersOpinion

Ek is siek en sat

Ek reageer net oor die berig rakende die herstel van slaggate van sekere strate.

Dit is verblydend om te sien dat dit gaan gebeur.

Ek is woonagtig in Duvahapark (Eric Rosenthalstraat). Dit is nie gelys onder die herstel van strate wat in die artikel genoem word nie. Ek wil asseblief vir mnr. Theo van Vuuren vra om ’n draai deur Duvapark te ry en te gaan kyk na die stand van paaie daar.

Om slaggate te ‘patch’ is ’n korttermyn oplossing asook die kwaliteit werk wat gelewer word. Die slaggat word vandag reggemaak en oor ’n week of wat verder sit die gat weer daar.

Bestaan strategiese langtermyn beplanning deur die stadsraad vir TOTALE vervanging van paaie en water en rioolsisteme in Witbank? Nie net sekere primêre paaie soos OR Thambo nie, maar vir die woonbuurtes waar Jan Alleman bly?

Bestaan daar ’n instansie binne Witbank Munisipaliteit wat kontrakteurs, asook stadsraadwerkers se gehalte van werk inspekteer?
Ek was die slagoffer van ‘n waterpyp wat twee keer binne die bestek van maande op my sypaadjie gebars het. Die werk wat daar gedoen is, is om die minste te sê, ’n gemors. Die skade aangerig is net so gelos en ek moes dit op eie koste en tyd regmaak.

Dit geld ook vir ander ongelukkiges in Duvhapark wat slagoffers is van ‘n waterstelsel wat jare gelede al vervang moes gewees het. Ek is een van baie getroue belastingbetalers in Witbank. My vraag aan Witbank Stadsraad is: wat kry ons terug hiervoor? As ek my water en ligte nie betaal nie, word my krag baie gou afgeskakel. Die verkeermanne is getrou besig met spoedlokvalle, maar waar is hulle waar ons hulle nodig het? Daar waar daar werklik ’n diens aan die gemeenskap gelewer moet word? Ek wil die agbare lede van die stadsraad vra om in hul blink karre te klim en deur te ry na Middelburg en gaan LEER by hulle wat beteken dienslewering. Dis net oor die bult.

Ek woon nou meer as 30 jaar in Witbank en is siek en sat vir die dienste waarmee ons tevrede moet wees. Maand vir maand, jaar na jaar.
Ek is siek en sat vir riool en water wat deur Witbank se strate vloei, asook die gereelde kragonderbrekings en waterprobleme. En dit hou net nie op nie.

Van dienste by die lisensiekantore wil ek nie eers praat nie . Indien daar nie iets drasties gedoen gaan word aan Witbank se infrastruktuur nie, gaan die stad binne vyf jaar in ’n derde wêreldse krotbuurt verander.

Hoe lank kan enige dorp of stad die druk hanteer van ‘n oorlaaide en stokou infrastruktuur wat nie byhou met sy uitbreidings nie?
Daar is net soveel reservoirs, riolering, transformators en paaie wat die vrag kan dra.

Die kern van die probleem is onbevoegte amptenare wat niks beteken en vet salarisse verdien elke maand. Wanneer jy hulle soek is hulle nêrens te vinde nie. Waar hulle is en wat hulle doen, weet die man op straat van Witbank nie?

Dankie aan mnr. Van Vuuren vir wat jy al reggekry het vir Witbank, ongeag die kritiek wat jy soms beleef. Ons het ten minste iemand wat na ons luister, nie die gesiglose stadsraad waarmee ons sedert die middel 90’s al sit nie.

My gevoel van wat die agbare burgemeester met sy/haar ketting kan doen? Ek wil dit eerder nie hier sê nie. Dis ’n blêddie skande, maar wie gee om?

One Comment

  1. Mooi gestel, kom ons Bid maar weer en kyk wat gebeur. My man het so agt jaar terug groot skade op ons voertuig gekry deur slaggat op die hoek by P and Pay Plumer straat, ons wat nou nog vir uitbetaling. Niks in Witbank loop reg al vir jare lank nie.

    Ek sit ook daagliks in my kantoor en kyk na ons verkeers beamptes wat mense stop en geld vat en geen kaartjie uitskryf nie???? Dus nie al nie hulle blou lunch pakkies word ook afgelaai as die oortreeders dalk nie kontant aan hulle het nie.

    Mense ry met groot smiles weg??? Ja Ek is net so gat vol soos jy.

Back to top button