Local newsNews

Boetie (6) lê bo-oor sy babasussie om haar te beskerm tydens diefstal-poging in onderdorp

Die polisie was toevallig besig met patrollie in die sentrale besigheidsgebied ten tyde van die voorval

Elke dag word lewens in gevaar gestel as gevolg van diewe wat enigiets sal doen om by die buit uit te kom.

Hester Boshoff (50) en Bernadine Brits (29) sê hulle kan nou nog nie glo hoe gelukkig hulle was om skotvry af te kom nadat hulle Dinsdag, 7 Januarie ’n noue ontkoming in die Sentrale Besigheidsgebied gehad het nie.

Hester het met haar wit Landrover in Walter Sisulustraat stilgehou by ’n robot.

Voor hulle nog besef wat aangaan is die voertuig deur vyf mans omsingel.

Een van die mans het sy hand deur ’n klein oop skrefie van die venster gedruk en gegryp na die motorradio se afstandbeheer wat gelyk het soos ʼn selfoon.

Die booswig het kort nadat hy agtergekom het dis nie ’n selfoon nie, die voertuig van binne af oopgesluit en sy trawante het die twee deure oopgeruk.

Die risiko was te hoog vir Hester en Bernadine om nie terug te baklei nie, want agter op die sitplek het die sesjarige Jayden Brits en sy sussie Janeske Brits, (drie weke oud) gesit.

Jayden se eerste reaksie was om oor sy sussie, Janeske, wat in haar veiligheidstoeltjie gesit het, te lê en haar te beskerm.

Met die geskarrel van die verdagtes wat onder die sitplekke vir handsakke of los goedere gesoek het, was dit ook Jayden wat eerste die polisie in hul voertuig raakgesien het.

Die polisie was toevallig besig met patrollie in die sentrale besigheidsgebied ten tyde van die voorval.

Die polisie het besef daar is fout en het die familie te hulp gesnel.

Die beamptes kon daarin slaag om vier van die vyf mans vas te trek en in hegtenis te neem.

“Ek kon nie dink waar ek die krag vandaan gekry het om die skurke weg van ons te hou nie, as dit nie vir die polisie was nie, weet ek nie wat verder sou gebeur het nie. Ek wil ook net dankie sê vir die professionele manier waarop die polisie die saak hanteer het en ons gehelp het,” het Hester gesê.

Geen beserings is opgedoen tydens die voorval nie en geen goedere beskadig of gesteel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button