Local newsNews

Weldoeners gee vir Nicke-Jean die grootste geskenk

Die Harris-gesin het nie medies nie en Stephan het net daar en dan besluit om dit gratis te doen

Kersliedjies en kersversierings spel dit duidelik vir ons uit dat Kersfees om die draai is.

Hoeveel van ons het nie al ons kerslysie lankal terug gemaak nie?

Behalwe vir die geboorte van Christus wat vir ons die grootste kersgeskenk ooit is, het ’n 4-jarige dogtertjie die grootste Kersgeskenk ooit gekry.

Nicke-Jean Harris het ’n splinternuwe beentjie gekry.

Nicke-Jean is op 23 weke gebore en toe reeds moes haar beentjie afgesit word omdat die naelstring daarom gedraai en bloedtoevoer na die beentjie toe afgebind het.

“Ons het vyf maande lank in die hospitaal deurgebring terwyl die klein dapper meisiekind van ons vir haar lewe geveg het,” het haar pappa, mnr. Boetie Harris vertel.

Boetie se niggie, me. Clara de Villiers het op ’n dag met Stephan Malan en Nicholas Coetzer van Marx en Malan Ortopediese Sentrum gesels en Nicke-Jean se storie vertel.

Die Harris-gesin het nie medies nie en Stephan het net daar en dan besluit om dit gratis te doen.

Stephan het vir Nicholas dié projek gegee en hy het dadelik skouer aan die wiel gesit en begin beplan vir parte en die tipe materiaal wat hy sou nodig kry vir die beentjie.

“Ons het vir haar ’n koolstofvesel prostese gemaak met ’n rubber binnekant wat ons groter gemaak het met ekstra lae sodat die prostese vir ’n langer tydperk gedra kan word en nie ’n paar keer ’n jaar oorgemaak hoef te word en haar loop weer kort te knip terwyl sy wag vir ’n nuwe been nie, maar dat daar net van die lae weggevat kan word en lengte verstelling gemaak kan word,” het Nicholas verduidelik.

Jaco Myburg en Marius Nel van Xtreme Hydro Dipping het van Nicke-Jean se beentjie te hore gekom en aangebied om die beentjie verniet te dip.

Nicke-Jean se beentjie is nou ’n vrolike helderkleurige beentjie waarop sy binne vyf minute reeds kon loop nadat dit vir haar aangesit is.

“Dit was vir ons ’n eer om deel van Nicke-Jean se projek te kon wees. As jy nie jou hand uitsteek om vir ’n ander te gee nie, hoe kan jy verwag om terug te ontvang,” het Jaco gesê.

Boetie kon nie genoeg woorde bymekaar kry om die weldoeners dankie te sê nie, “Dankie is net ses letters lank, maar Stephan, Nicholas, Jaco en Marius het ons dogtertjie se lewe verander. Ons sal julle ewig dankbaar bly.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button