NewsSchools

Bloues vat goud by Mpumalanga finaal

Hierdie seuns het puik hokkie regdeur die onlangse seisoen gespeel en die bobaasbloues ongelooflik trots gemaak

Die o.16 A-hokkieseuns van die Hoër Tegniese Skool is definitief ’n span wat nie terugstaan nie.

Hierdie seuns het puik hokkie regdeur die onlangse seisoen gespeel en die bobaasbloues ongelooflik trots gemaak.

Hierdie seuns het op Saterdag, 13 Julie in die Mpumalanga-finaal by The Hockey Farm teen Hoërskool Secunda te staan gekom.

Na slegs ’n paar minute se spel was dit duidelik dat albei spanne se visier op die wentrofee was en dat die wedstryd ’n senutergende een gaan wees.

Dit was van die begin af duidelik dat hierdie seuns vasbeslote was om die goud huis toe te bring.

Francis Ntuli het weereens bewys dat hy die spel sommer vining-vinnig verander en die eerste doel vir HTS Witbank ingeskiet.

Die manne in blou het hul doelhok uitstekend verdedig, maar Secunda het nie vir een oomblik teruggestaan nie en slaag daarin om ook ’n doel aan te teken.

Die o.16 A-Mpumalanga-seunshokkiefinaal eindig met ’n gelykop telling van een elk. HTS Witbank en Hoërskool Secunda behaal dus albei ’n eerste plek in die provinsie en deel die trofee.

HTS Witbank is ongelooflik trots op elke seun asook hul afrigter, Meneer Anthony Ruschenbaum. Baie geluk met ’n welverdiende wen.

HTS Witbank se o.14 A-seunshokkiespan het ’n ongelooflike seisoen agter die blad en het met elke wedstryd HTS Witbank soos ware arende verteenwoordig en baie trots gemaak.

Hierdie ystermanne het gewys wat in hulle steek. Hulle spog met 67 doele in totaal vir hierdie seisoen waar hulle opponente net drie doele teen hulle kon aanteken.

Onder die wakende oog van hul afrigter, Meneer Victor Snyder, het hierdie span op Saterdag, 13 Julie soos een man hul opponente, Penryn College, in die Mpumalanga finaal aangedurf.

Die seuns in blou het soos ’n goed-geoliede bloumasjien saamgewerk om te verseker dat hulle die wentrofee vir HTS Witbank huis toe bring.

Wehann van Sittert het binne die eerste paar minute van die wedstryd die eerste doel vir die bloues aangeteken.

Die manne van Penryn het hard terugbaklei en ons seuns moes hard werk om hul opponente van die doelhok af weg te hou.

Conrad du Plessis het met vernuf seker gemaak dat die tweede doel sommer hard teen die agterkant van die doelhok klap vir die manne in blou.

Fantastiese spanwerk het verseker dat Thato Mogane die finale spyker in die doodskis slaan.

Met drie punte op die telbord en slegs sekondes op die horlosie oor, het die bloues die laaste tien sekondes van die wedstryd afgetel voordat die klank van die eindfluitjie die Mpumalanga-wenners aangekondig het.

HTS Witbank is ongelooflik trots op elkeen van hierdie seuns, hul bobaasafrigter Meneer Victor Snyder en hul spanbestuurder, Meneer Jacques Nel.

Baie geluk ook aan elke betrokke ouer, baie dankie vir u wonderlike ondersteuning en betrokkenheid.

HTS Witbank sien met groot verwagting uit na Noordvaal, ons weet dat hierdie seuns en hul afrigter verder met hul Godgegewe hokkietalent sal woeker.

Back to top button