CrimeNews

Rowers kom weg met vuurwapen

“Ek sal hulle gesigte nooit vergeet nie,” vertel me. Marie Nel (52). Sy onthou die gebeure nog soos gister.

Die senuweeagtige man wat die koue mes teen haar keel druk… en die geweerskoot wat afgaan voor die verdagte op haar afstorm met die skerp wapen.

Die kringe onder Nel se oë vertel van slapelose nagte na sy Sondag 27 April, in haar huis in die Naauwpoort-omgewing deur twee rowers oorval is.

“Ons het die middag ons kleinkind gaan optel en huis toe gekom. Net so rondom 14:30 het my man uit geloop om die koerant langsaan te gaan kry,” vertel Nel soos sy die gebeure herroep.
Nel het in die kombuis gesit by die tafel, besig met haar selfoon, toe sy die deur agter haar hoor oopgaan. “Ek het nie omgekyk nie, want ek het gedink dis Joe wat weer terug is.”

Nel vertel van die skok toe daar skielik ’n vreemde man langs haar staan, haar agter aan haar nek gryp en ’n mes teen haar keel druk.
“Hy het vir my herhaaldelik gesê: ‘keep quiet, keep quiet’,” het Nel onthou. Sy het gesê dat die man langs haar baie angstig en senuweeagtig was soos hy haar hande met kabelbinders (cable ties) vasgebind het, steeds met die mes in sy hand. “Hy kon ook nie die horlosie van my pols af kry nie,” meen Nel en sê dat die man haar toe gevra het vir geld. “Ek het vir hom my vasgebinde hande gewys en gevra ‘hoe kan ek vir hom die geld kry as my hande vas is?’. Ons het in elk geval nie kontant wat ons in die huis hou nie.”

Die gat in die muur, na me. Marie Nel een van die rowers mis geskiet het.
Die gat in die muur, na me. Marie Nel een van die rowers mis geskiet het.

Dis net toe dat Nel haar eggenoot, mnr. Joe Viljoen (62), hoor terug kom. “Ek wou vir hom skree om nie in te kom nie, maar
die man het my met die mes teen my keel gedreig om stil te bly.

’n Tweede verdagte, wat vermoedelik by die deur gestaan en
wag het, het Viljoen probeer oorrompel. “Hy (Joe) het toe met die kleiner man gestoei en die man wat langs my gestaan het,
het toe ingespring om te help.”

Tydens die stoeiery het Nel gevrees vir hul drie-maand-oue kleinkind wat in die baba-stoeltjie in die kombuis gestaan het. “Ek het aan niks anders gedink, behalwe ons kleinkind op daardie oomblik nie. Joe was die held en het sterk gestaan teen die twee wat hom geslaan en gekrap het, terwyl hy gestoei het om die paniek-knoppie te kry.”

Soos Viljoen teen die booswigte baklei het, het Nel haar kans aangegryp om na die slaapkamer te haas waar sy haar .22 rewolwer gaan kry het.
“My hande was steeds vas, so ek kon nie die vuurwapen
lekker vasgehou het nie,” het Nel verduidelik.

Een van die verdagtes het Nel weer in die gang op pad na die kombuis voorgekeer, waar sy toe ’n skoot gevuur het. Die skoot het hom gemis en die man het toe na haar gestorm met die mes. “Ek kon nie weer die rewolwer laai met my hande wat vas was nie, so toe probeer ek hom gooi met die geweer.”

Die verdagte het die wapen opgetel.
Na die huisalarm afgegaan het, het die rowers geskrik en vinnig probeer wegkom. Behalwe vir die vuurwapen wat die een verdagtes gevat het, het hul net ’n sigarethouertjie gegryp. “Niks anders. Ons selfone – myne het nog so oop op die tafel gelê, maar hulle het dit nie eers gevat nie.”

Sekuriteit en polisie was ’n paar minute na die voorval op die toneel, maar die verdagtes was reeds weg.
Die egpaar het behalwe vir ’n paar skrape en merke, ongedeerd uit die aanval gekom.

“Dis nou al die tweede keer wat ons beroof is,” het Nel vertel en ’n vorige geval, ’n ruk gelede, herroep toe hul deur drie gewapende mans in hul huis oorval is. Beide van die voorvalle spook nou nog by Nel in die aande.
Die verdagtes is steeds onbekend maar kan geidentifiseer word.

*Video-materiaal wat vasgevang is op ’n kamera buite die huis wys hoe die verdagtes omstreeks 14:25 by die huis ingaan en weer op 14:27 uithardloop na buite.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button