CrimeNews

‘Los net asseblief my Bybel’

Die man het vir haar water geoffer en gesê sy moet stilbly en stil lê sodat die ander haar nie hoor nie.

“Ek het vir hom gesê hy het nou alles. Hy moet net my Bybel los. Die wit boek lees ek, want dit is my Here se boek,” het me. Sarie van Deventer* (65) vertel nadat sy deur rowers in haar huis oorval is.

Die rowers het Van Deventer se “wit boek” gelos, maar is Vrydag, 17 Mei weg met net drie selfone, haar ou goedkoop ringe wat sy aangehad het en ’n tablet.

Van Deventer het vertel hoe sy vroeg verlede week onraad gemerk het toe daar aan die items in haar erf in Uitbreiding 16 gepeuter word en hier en daar iets weg is.

“Dit was Maandagaand of Dinsdagoggend toe hier goedjies uit die erf weggeraak het en natuurlik was ons op ons hoede,” het sy vertel.

Vrydag, nadat haar suster se seun wat by haar inwoon werk toe is, het sy nog bietjie gelê nadat hy gery het.

“Ek het iets gehoor, maar gedink hy kom terug vir iets wat hy dalk vergeet het. Ek het die lig wat flikker in die gang gesien en besef hier is iemand in my huis en ’n gilletjie gegee.
“Hier het ’n man die kamer ingestap en gesê ek moet stilbly, die ander is voor besig. Ek het hom gevra waar hy ingekom het en hy het gesê by die eetkamervenster. Ek het later eers gesien dat hulle die diefwering teruggebuig het.”

Die man het aan Van Deventer gesê dat sy saam met hom moet kom, waarop sy hom geantwoord het dat hy haar kans moet gee,

“hy het gesien ek het net een been en sukkel om op te staan, toe het hy my van die bed afgetel, en my op die vloer neergesit waar hy reeds ’n kombers en kussing neergesit het.”

Sy het ook gesê dat die man haar hande agter haar rug vasgemaak het met verbande.

“Die man het my gevra vir ’n geweer en gesê dat sy broer doodgemaak is en hy wil die persoon gaan doodmaak. Ek het gesê ek het nie ’n geweer nie en ook nie geld nie, behalwe die paar rand vir brood en melk.”

Die man het toe weer gevra vir ’n geweer of ’n strykyster.

“Ek het gesê ek het nie en kort daarna het hy gevra of ek kondome het, waarop ek toe antwoord: ‘wat moet ’n ou tannie soos ek met kondome maak?’”

Van Deventer glo vas dat die man nie daarop uit was om haar te beseer of te skiet nie.

Die man het vir haar water geoffer en gesê sy moet stilbly en stil lê sodat die ander haar nie hoor nie.

Die man het haar hande losgesny en haar hand per ongeluk met die mes raakgesny, waarop hy ’n verband gevat het en die bloed afgevee het. Hy het op ’n stadium die mes in my sy gedruk, maar my nie seergemaak nie.

Na die man uit haar kamer is het Van Deventer die deur toegemaak en voor die deur gaan sit.

Sy het vertel hoe sy gewag het tot die huis tjoepstil word voordat sy na die bure se huis gekruip het om hulp te soek.

“Ons het my suster en haar man gebel om my te kom help, ek het vreeslik gelyk, want soos ek my gesig gevryf het, het die bloed oral gesmeer. Die buurtwag was blitsvinnig hier, die polisie het my so mooi gehelp en hulle was so vinnig. Die man van forensies het ons so mooi behandel en selfs hulle was baie vinnig by die huis.”

Van Deventer vertel dat die man selfs vir haar gesê het dat sy die venster waar hy ingekom het mooi moet toemaak, want sy sal vermoor word.

“Hy het vir my water aangebied toe ek dors was en daar was ’n nylontou op die kombuiskas wat hy maklik kon gebruik om my mee te verwurg. My SASSA-kaart het op die vloer gelê en hy het dit nie gevat nie.”

Die man het ook glo gevra waar die eienaar van die huis is en die meisiekind, want my ma het baie poppe gehad wat in die een kamer is.

“Ek kry tans berading by my dominee en ek is dankbaar daarvoor,” het Van Deventer gesê.

Sy bedank almal wat haar gehelp het en wat haar steeds bystaan.

Daar kon nog nie met sekerheid vasgestel word of daar wel ander verdagtes in die huis was en indien daar was, hoeveel hulle was nie. Die saak word deur die polisie ondersoek.

*’n Skuilnaam is gebruik om die identiteit van die slagoffer te beskerm.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button