Local newsNews

Goue huweliksherdenking gevier

Philip het vertel dat dit blote toeval is dat dit ’n dag na Valentynsdag is

Philip (75) en Alida (73) Heydenreich is ’n absolute voorbeeld van ewige liefde en reeds vir 50 jaar blom hul rosetuin van liefde in oorvloed.

Sedert hul tjokker-dae was die twee vir mekaar uitgeknip maar het dit eers in hul 20’s besef.

Alida het vertel hoe hulle van kleins af in dieselfde kerk was en ook later saam in dieselfde jeug, maar dit was eers op 3 Augustus 1965 toe Philip die moed bymekaar geskraap het om die oulike ‘girltjie’ te vra om te ‘kys’.

Tot vandag herdenk hulle hierdie spesiale dag saam, maar nie meer as hul troudag op 15 Februarie nie.

Philip het vertel dat dit blote toeval is dat dit ’n dag na Valentynsdag is.

“In ons tyd was daar nie so iets soos Valentynsdag nie,” het hy gesê.

Die twee het eers op Alida se verjaarsdag, op 10 Junie 1968 verloof geraak en die knoop deurgehaak in 1969.

“En ons bly sedertdien in hierdie huis ook. Al ons herinneringe is hier saamgevat, die kinders het hier grootgeword en ons het soveel mooi hier,” het Alida gesê.

Musiek speel ’n baie groot rol in hul lewe en dit is ook hier waar Philip vir die eerste keer Alida se oog gevang het.

“Ons het saam musiek geneem by Baps Chandler. Dit was vir my so wonderlik om vir Philip te sien klavier speel,” het Alida verder gesê. “Ons was nog altyd baie betrokke by die kerk, en is nou betrokke by die senior burger kerkkoor ook. Ons hele familie is maar baie musikaal. Dis ons familie se groot liefde.”

Hulle het vanjaar hul 50 goue jare by Will Chris Estate gevier, op 16 Februarie saam hul naaste familie en vriende, en het hul beloftes aan mekaar hernu.

“Een van die dinge op my ‘bucket list’ is om in ’n warm lugballon te ry. So, die familie het dit goed gedink om vir ons ’n geskenk te gee om wel op ’n lugballon te gaan. Ons is so geseënd, om almal daar te kon hê,” het Alida verder gesê. “Met ons 40ste herdenking het ons ’n bankie by Tambotie Tentekamp gekry. Hierdie jaar het ons ’n nuwe naamplaat gekry met ons 50 jaar van liefde daarop.”

Philip en Alida meen dat hul ’n vol lewe en huwelik het en hul drie kinders, Lydia Opperman, Celeste Lategan en Philip Heydenreich met hul vier kleinkinders voltooi hul verhaal.

Philip en Alida Heydenrich op hul troudag, 50 jaar gelede.

“Ons toer vreeslik baie. Ons was van Europa tot in Swaziland, in Hong Kong en net verlede jaar in Amerika, om slegs ’n handjievol plekke te noem. Ons is nou natuurlik baie lief vir die wildtuin en was daar met ons tweede wittebrood. Ons het ook die eerste aand na ons getroud is, 50 jaar gelede in die Boulevard Hotel geslaap. My seun het verseker dat ons die aand van 15 Februarie 2019 weer daar slaap. Dit was baie spesiaal,” het Alida vertel.

Philip het by Eskom gewerk vir 37 jaar en toe op 50 afgetree, terwyl Alida vir nege jaar by die Stadsraad gewerk het tot in 1973.

Daarna het sy haar merk in die verkope industrie gemaak en is tot vandag toe hier doenig.

“Dit is so lekker om nog te kan werk.”

Philip hou hom besig deur houtwerk te doen, Alida te help waar hy kan en hy meen dat tyd vir jouself net so belangrik is.

“As ek die dag besluit ek is lus vir niks doen, doen ek presies net dit.”

Philip het ook gesê: “Ek het nog altyd van houtwerk gehou. Ek het altyd gesê ek gaan timmer die dag wanneer ek aftree en ek hou myself so besig. Ek is baie lief vir fietsry, ons het altyd gaan stap en ek was nog altyd baie aktief. Alles wat in die huis gedoen moet word, doen ek self. ”

Wat is die resep tot so gelukkige huwelik dan?

“Ons belange is baie dieselfde. Philip sal klavier speel en ek sal soms sing. Mens moet ’n gebalanseerde lewe lei en tyd maak vir alles. Leef gesond, dan het jy tyd om alles ordentlik te doen. Ken jou Skepper in alles wat jy beplan en doen en hou jouself besig en maak tyd vir jouself,” het die twee vertel.

Back to top button