CrimeNews

Yvette skuldig aan moord

Yvette Burger is vroeër die week skuldig bevind op die moord van haar ma en suster.

Yvette Burger is vroeër die week skuldig bevind op die moord van haar ma en suster.

Haar snikke was Maandag, 4 Junie duidelik tussen landdros Hans Combrink se uitspraak hoorbaar. Die 39-jarige vrou sal op 20 Julie gevonnis word vir die moord op mee. Ester en Caren Burger.

Uit die weergawe van twee getuies het die aand van 19 Augustus 2016 se gebeure ontvou.

Me. Aldine Byrne het Vrydag, 1 Junie getuig dat sy ongeveer 23:20 ’n oproep van ’n vriendin, me. Caren Burger se selfoon ontvang het. Sy het die oproep gemis omdat sy geslaap het. Sy het wakker geword, badkamer toe gegaan en toe vir Caren ’n boodskap teruggestuur en gevra of iets verkeerd is.

Die selfoon het weer gelui en ’n vrou het haar voorgestel as Caren se sussie, Yvette, en gesê sy het haar ma en sussie geskiet en haar sussie sal nie Maandag by die werk wees nie. Die vrou het gesê sy het gedrink om moed bymekaar te skraap om hulle te skiet. Sy het ook gesê haar ma het haar gevra om hulle te skiet.

LEES OOK

Yvette kry nie borg nie

Yvette wil haar pleit verander
Byrne het dadelik die buurtwag op die Zello-kanaal laat weet.

Mnr. Stanley White, voorsitter van die buurtwag was eerste op die toneel saam met kol. Gerhard Westrate.

White het getuig hoe hulle gesukkel het om die pa, mnr. Lloyd Burger wakker te kry.

“Toe ons uiteindelik die pa wakker gekry het, het ek duidelik gehoor hoe hy sy kamerdeur oopsluit.”

Mnr. Burger het op ’n vorige geleentheid gesê hy het die aand vyf stywe doppe en slaappille gedrink en die kamerdeur gesluit voor hy gaan slaap het. Hy het nie die skote gehoor nie.

White en kol. Westrate het Burger in die een slaapkamer bo op haar ma se lyk gekry. White het getuig dat Burger beskonke was. Hulle het Caren se lyk in haar kamer gekry. Albei was in die kop geskiet.

Burger het senuweeagtig gelyk toe sy na die getuiebank toe geroep is. Haar advokaat, mnr. Makitimela Nkadimeng het haar oor hul huislike omstandighede uitgevra.

“Daar was spanning en ’n rusie oor geldprobleme. My pa wou weet hoekom ek en Caren nog in die huis bly. Sy het maar R3 500 ’n maand verdien en ek was drie jaar lank werkloos. My pa het nie geweet nie. My ma het gesê ek moet stilbly want hy sou woedend wees. Ek wou net gaan slaap na die bakleiery en het Vodka, agt Kodeïne pille en slaappille gedrink. Toe ek wakker word was ek in die hospitaal,” het sy getuig.

Sy het gesê hulle het altyd hul kamerdeure gesluit as hulle gaan slaap het as ’n veiligheidsmaatreël. Sy het ook getuig dat die vuurwapen waarmee die moord gepleeg is aan haar ma behoort het.

Burger het gesê sy onthou niks van die gebeure wat daarna gevolg het nie.

Nkadimeng het gevra hoekom die polisie nie toetse vir die afvuur van ’n vuurwapen op Burger, haar pa of ma se hande gedoen het nie.

Mnr. Francois Brandt wat vir die staat opgetree het, het gesê Burger se skielike geheueverlies is ’n slenter om haarself te verdedig teen die afgryslike misdaad.

“Deur me. Byrne se detail van die aand se selfoonoproep is dit duidelik nie die aksie van ’n persoon wat nie weet wat sy gedoen het nie. Nadat u die oproep gemaak het, het u die pille en alkohol geneem,” het Brandt gesê.

In ’n openhartige onderhoud met WITBANK NUUS kort na die moord het Burger vertel dat haar ma haar gevra het om hulle te skiet en haarself daarna. Die onderhoud is nie deur die hof in ag geneem nie omdat Burger se verdediging gesê het haar regte is nie beskerm tydens die onderhoud nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button