EntertainmentLifestyle

Cefas 2014 om die draai

Een konferensie, drie dae, sewe verhoë, meer as 100 optredes, kunstenaars, predikers, getuienisse, bedienaars, Christelike films en ’n fietsry wedren.

In ’n neutedop dit is alles wat vir die Cefasfees 2014 beplan word.
Die fees word op Stoffberg gehou en daar word omtrent gewoel en gewikkel om die ou OTK perseel op te tooi vir die konferensie wanneer gelowiges vanaf 18 April tot 20 April  intiem met die Skepper kan verkeer.

Die reuse interkerklike konferensie bied sewe afsonderlike bedienings.
Die manne, vroue en jeug het almal hul eie area waar daar net op hulle gefokus word.

Verdere bedieningsaspekte is kuns en toneel, getuienis, bediening en leringe en aanbidding. Die afsonderlike areas sal van 10:00 tot 18:00 regstaan vir feesgangers waarna die hoofvertoning van 19:00 tot 23:00 plaasvind by die hoofverhoog.Hier gaan bekendes soos Pieter de Jager, ’n jong boer en fanatikus van Jesus met ‘n stem uit die hoogte saam met Johan Vercueil die verhoog betree.

Ook Joe Niemand gaan hier optree. Joe is die skrywer van groot Gospel treffers soos ‘Ek sal nie bang wees nie’ en ‘Genoeg is genoeg. Dan is dit Danie Botha se beurt. Die ou bekende singende prediker gaan verras met sy musiek en direkte word bediening.
Wicus Struwig  gaan met sy fenomenale musiek die besoekers  vermaak met klanke van duisende instrumente.
Die  swemmer Lyndon Ferns gaan skouers skuur met plaaslike kunstenaars.

Buiten vir die fliekteater gaan ‘n fietsry wedren hierdie jaar deel van verrigtinge uitmaak.
Die fietsry wedren, aangebied in samewerking met die Middelburg Fietsryklub, bied ‘n geleentheid vir families om iets saam te doen.

Op 19 April kan fietsryers deelneem in een van vier afdelings wat wissel van 65km tot 5km in afstand. Die 65 km baan is uitdagend en beslaan verskillende terreine waaronder bergagtig, nat, gras en grondpaaie.

Kry die registrasievorms op die webblad ww.cefas.tv/fietswedren of skakel Harry van Rensburg by 078 330 9895 vir meer inligting.

Kaartjies vir die Cefas naweek beloop R100 per persoon. Dit kan aanlyn by www.cefas.tv of by die hek gekoop word. Daar is ‘n kampeerterrein beskikbaar met ablusie geriewe wat warm water storte insluit. Vir meer inligting oor die fees of vir alternatiewe verblyf in die omgewing kan jy op die webtuiste, gaan loer.

Back to top button