BlogsOpinion

Slenters wag om elke hoek en draai

Skarminkels loer deesdae om elke hoek en draai en kan nie wag om hul tentakels in jou in te slaan nie.

Skarminkels loer deesdae om elke hoek en draai en kan nie wag om hul tentakels in jou in te slaan nie.

As jy die woord slenter opsoek, dan word dit in woordeboeke beskryf as streek, skelmstreek en listigheid.
Dis juis met ’n skelmstreek dat ’n jong paartjie verlede weekuit R2 500 geswendel is. Nadat hulle die gedeelte van ’n deposito betaal het, is die vrou wat die huis ‘verhuur’ het vort. En die huis bestaan nie.

Dan is daar ook die skelms wat op bejaardes teer. Hulle sit soos aasvoëls en wag net dat die bejaardes om hul pensioengeldjies te gaan trek dan slaan hulle toe. Die bejaarde se aandag word afgetrek en hul bankkaarte omgeruil.
Maar moenie dink dit stop daar nie. Selfs die liefde is al in die net vasgevang.

Hulle sê liefde is blind, maar daar word nie gespesifiseer hoe blind nie. Meer as een baie verliefde vrou is al deur die Adonis van een of ander eiland van haar voete afgeslaan. Hierdie romantiese swendelary het meer as net ’n geldelike inpak. Harte bly ook in die slag. Eva ontmoet Adonis aanlyn. Hulle kommunikeer later met SMS’e. Hy wil graag kom kuier, maar een of ander krisis duik op. Dan vra hy natuurlik of Eva ’n paar sente in sy rekening sal deponeer. En op die einde bly hulle nie lank en gelukkig in die paleis nie.

Hoeveel van ons is nie al miljoenêrs met al die geld wat ons al gewen het nie? As jy jou naam en nommer nie op papier ingevul het nie, hoe kan jou naam in ’n gelukkige trekking getrek word? Hoekom moet jy geld inbetaal om jou prysgeld op te eis? Die vrae is eindeloos en tog val dag elke dag dapper manne vir die slenter.

So ’n paar weke terug is ’n vrou in die buurdorp beroof toe mense hul voorgedoen het as huiskopers. Hulle is onder andere vort met die vrou se juwele.

Ander is weer besteel toe die natuur roep en hulle gevra het om die badkamer te gebruik.
Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde en jy kom gou agter dat in ons lewe daar min is wat nie gou ’n slenter kan word nie.

Dis toe die Engelsman kug en sy stuiwer in die armbeurs gooi. Hy gaan moontlik wenkbroue laat lig toe hy vra:
“Hierdie nuwe voorafbetaalde masjientjies van die stadsraad, is dit nie ook dalk ’n slenter dat ons meer per eenheid elektrisiteit betaal nie?”

Nou dis mos ‘food for thought’.

Back to top button