Skooljuffrou, vriende sit lewenslank na moord op oud-Koevoetlid

Chris Barnard het verdwyn nadat hy ’n foto van hom en sy vriendin wat hy op Facebook ontmoet het, vir sy familie aangestuur het.

Drie inwoners van die Vaaldriehoek, waaronder ‘n voormalige Sasolburgse onderwyseres, is vroeër die maand in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens die moord op die oud-Koevoetlid, Chris (Barries) Barnard (55), in Desember 2019.

Corné de Beer (37), ‘n voormalige onderwyseres en ma van ‘n 11-jarige kind, en twee vriende, Wayne van der Walt (39) en Richardt ‘Jagter’ Botha (39) is buiten hul lewenslange vonnise ook elkeen ‘n ekstra 13 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van diefstal en bedrog.

Barnard, wat as terreinbestuurder vir ‘n Amerikaanse sekuriteitsonderneming in Irak gewerk het, se liggaam is in Februarie 2020 in ‘n veld noord van Pretoria ontdek nadat hy in Desember 2019 tydens ‘n vakansie in Suid-Afrika verdwyn het.

Gedurende die bosoorlog was Barnard in Namibië en Angola aan Koevoet, die polisie se spesiale taakmag, verbonde. Hy het in 2006 in Bagdad in die Midde-Ooste begin werk en konvooie tussen Koeweit en ’n weermagbasis in Irak begelei. Sedert November 2017 het hy as sekuriteitsbestuurder in Irak gewerk.

Barnard sou die Desembervakansie van 2019 in sy huis in Annlin, Pretoria deurbring terwyl sy suster en haar man op vakansie in Mosambiek was. Hy het glo destyds baie daarna uitgesien om ‘n vriendin wat hy op Facebook ontmoet het, De Beer, in Sasolburg te gaan haal om ‘n paar dae saam met hom in Pretoria deur te bring.

‘n Selfie wat Chris in 2019 tydens sy vakansie aan sy familie gestuur het nadat hy ‘n ‘oulike Sasolburgse onderwyseressie’ ontmoet het. Min het hy toe geweet Corné de Beer sou uiteindelik by sy moord betrokke wees.

 

Gedurende dié tyd het hy ‘n selfie van hom en De Beer aan sy familie gestuur. Sake het daarna ‘n vreemde wending geneem toe ongewone WhatsApp-versoeke van sy selfoonnommer af ontvang is om groot bedrae geld tussen sy bankrekeninge te verskuif.

Sy familie het agterdogtig geraak en ‘n vriend gevra om ondersoek by sy huis in Pretoria in te stel, waar gevind is dat die huis leeggesteel en geplunder was. Daar was geen teken van Barnard of sy voertuig nie. Sy familie het hom op 7 Desember 2019 by die Sinoville-polisiestasie as vermis aangemeld.

Duisende rande is glo na sy verdwyning uit sy bankrekening onttrek. ‘n Intensiewe soektog deur die polisie en die private ondersoekdiens van Mike Bolhuis en Nolisat Investigations is daarna op tou gesit.

Die analisering van selfoondata het die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei, waar De Beer op 24 Desember 2019 in verband met die saak in hegtenis geneem is. Sy was voorheen ‘n wiskunde en wetenskap onderwyseres wat wiskunde en wetenskap by ‘n privaatskool in Sasolburg.

Dit het tydens die hofverrigtinge aan die lig gekom dat sy as kind uit ‘n goeie huis gekom het en ‘n top akademiese presteerder op skool was. Haar lewe het egter begin ontspoor toe sy met verkeerde vriende deurmekaar geraak en op 18-jarige ouderdom aan dwelmmiddels verslaaf geraak het. Sy het erken dat sy ook dwelms gebruik het in die tyd wat sy onderwys gegee het.

Dae na De Beer se arrestasie is Botha en Van der Walt op 30 Desember 2019 ook in hegtenis geneem. Verskeie van Barnard se persoonlike besittings en sy Jeep is in Vanderbijlpark in hul besit gevind. Net soos De Beer was hulle ook selferkende dwelmgebruikers.

Barnard se liggaam is in Februarie 2020 deur ‘n voetganger in die Pienaarsrivieromgewing, noord van Pretoria, ontdek. Hy was met toue in ‘n duvet toegedraai en hoewel gevorderde ontbinding reeds ingetree het, is hy aan ‘n tandheelkundige plaatjie en ‘n tatoeëring van sy dogter se naam op sy rug, uitgeken.

Die drie beskuldigdes het dwarsdeur die hofsaak volgehou dat hulle Barnard nie vermoor het nie en net saam met hom dwelms gebruik en gekuier het. Hulle het wel erken dat hulle goedere uit sy huis gesteel en bedrog met sy bankbesonderhede gepleeg het.

Die hooggeregshof het die drie egter skuldig bevind aan Chris se moord en hulle daarvolgens gevonnis.

Die vermoorde Chris Barnard in sy jonger dae saam met sy ouers, Leon en Marlene Barnard, en sy suster Jenny.

 

Barnard se familie is woedend omdat die moordenaars sy naam na sy dood beswadder deur voor te gee dat hy saam met hulle dwelms gebruik het.

“Hy was nie die soort mens wat dwelms sou gebruik het nie. Uit die aard van sy hoërisiko-werk sou hy dit nooit eers oorweeg het nie,” sê sy suster Jenny Mentz.

Buiten Mentz en ander familielede word Barnard ook deur sy bejaarde ouers, wat albei reeds in hul tagtigs is, oorleef. Volgens Mentz verwerk hulle sy dood baie moeilik.

 

 

Read original story on vaalweekblad.com

Back to top button