CrimeNews

Vulstasie-bende roof weer

Die verdagtes het daarna die kluis met plofstof opgeblaas

’n Klomp rowers saam vorm ’n bende, maar ’n klomp rooftogte is ’n bron van groot kommer vir vulstasie- eienaars en personeel.

Nog ’n vulstasie is beroof in die oggendure van 17 April in die SBG (Sentrale Besigheidsgebied).

Na bewering het beide personeel en bestuur in die geriefwinkel van die bekende vulstasie gesit toe ’n maroen Nissan Juke met ’n spoed by die deure stilhou. Daar het glo vyf verdagtes toegesak en die deur oopgebreek met koevoete omdat die deure gesluit was. Hulle het die personeel met geweld teen die grond gegooi en die kassier by die sigarette-toonbank glo geskop terwyl hulle verwoesting gesaai het.

Die verdagtes het daarna die kluis met plofstof opgeblaas. Die verdagtes het op hul tyd al die kontant bymekaargemaak en nog die tyd geneem om die voertuig op te vul voor hulle weggery het.
Verder het een van die personeellede bevestig dat een van die rowers baie swaar gewapen was.

WITBANK NUUS berig al vir die afgelope maand oor die toename in vulstasies wat weekliks beroof word. Altesaam is daar al meer as 12 voorvalle by Witbank Polisie aangemeld in net vier weke.

Die polisie het vroeër verlede week ’n spesiale vergadering gehou oor die toenemende rooftogte by vulstasies en vulstasie-winkels. Tydens die vergadering is opskerping van sekuriteit bespreek. Daar is tot die slotsom gekom dat vulstasies gedurende die aand en nag beroof word en eienaars is gemaan om hul handelsure gedurende hierdie tyd te heroorweeg.

Ongelukkig raak die rowers meer en meer aggresief en gaan hulle die ekstra myl om te kry wat hulle wil.

Woordvoerder van Witbank Polisie, sers. David Ratau het die publiek, asook eienaars van besighede gewaarsku om paraat te wees, elke oomblik.

Al die bogenoemde sake geniet prioriteit aandag. Die publiek word gevra om enige verdagte voertuie en persone te rapporteer aan die polisie, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of South Africa Community Crime Watch (SACCW).

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/90928/nege-vulstasie-winkels-n-maand-beroof/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/90254/kitsroof-by-kitskoswinkel/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button