CrimeNews

Doodgeskiet vir hangertjie en selfoon

Familie en vriende is in rou gedompel nadat ’n inwoner van die Golden Mile-landgoed die naweek doodgeskiet is tydens ’n aanval.

Familie en vriende is in rou gedompel nadat ’n inwoner van die Golden Mile-landgoed die naweek doodgeskiet is tydens ’n aanval.

Mnr. Clint Moorcroft (51) en sy vrou is Sondag, 18 Desember omstreeks 00:25 deur vier gewapende mans by hul huis verras.

Volgens mnr. Nick Grobler, eienaar van die landgoed het gesê die egpaar was voor die televisie uitgespan toe vier mans skielik agter hulle gestaan het met balaklava’s. Moorcroft het na bewering opgespring en hulle uit die huis probeer kry, en dit is toe die skoot klap.

“Hy is in die nek gewond en op slag dood verklaar. Die rowers het slegs Retha se hangertjie en Clint se besigheidselfoon gesteel,” het Grobler gesê.

Hy het vertel dat niemand weet hoekom Moorcroft geskiet is nie, aangesien niemand vasgebind of verder beseer is nie en niks meer gesteel is nie.

“Ek weet nie of dit miskien iemand is met ’n verskuilde agenda nie. Miskien is dit polities gedryf, ek weet nie. Hulle het net geskiet en gegaan,” het Grobler verder gesê.

Sekuriteitsbeamptes van Golden Mile-landgoed het Sondag, 18 Desember gesê dat hulle Saterdagaand patrollie by die landgoed gedoen het, soos elke ander dag.

“Tydens ons patrollie om 22:00, was alles in orde. Omstreeks 00:25 het ek gehoor van die skietery wat by mnr. Moorcroft se huis plaasgevind het. Ons het weer gepatrolleer en ’n opening in die draad gesien. Ons vermoed die rowers het daardeur toegang verkry. Ons vermoed ook dat hulle per roeiboot of kano weer weg is, aangesien die heining teen die water is,” het een van die patrolliebeamptes gesê.

Mc801rs
Wyle mnr. Clint Moorcroft (51).

Volgens Grobler is hy reeds sedert 2001 eienaar van die landgoed en nog nooit was daar so voorval nie.

“Ons het dan byna geen inbrake nie.”

Hy het vertel dat die byna 80 huise op die landgoed nog altyd veilig was, en dat hulle om die klok werk om die inwoners se veiligheid te verseker.

“Na die voorval is ek vroeg Sondagoggend ingelig van die voorval. Die sekuriteit was binne vyf minute hier en die polisie het ook redelik vinnig opgedaag,” het Grobler gesê.

Moorcroft was die voorsitter van die landgoed-komitee.

“Ons hou elke maand vergaderings om die plek op te knap en dinge te verbeter. Hy gaan ’n vreeslike leemte los. Hy was ’n eerlike en opregte man,” het Grobler bygevoeg.

Grobler het verder vertel dat plot-eienaars naby Golden Mile-landgoed, ook aangemeld het van vier gewapende mans wat die vorige aand gewaar is. Niemand is beseer nie en hy vermoed dat iemand die plotte teiken.

“Dit is vir ons baie onduidelik wat gebeur het en hier is selfs huise wat mense as vakansiehuise gebruik. Daar is meubels, maar niemand woon hier nie. Dit het alarmstelsels wat my seun en die sekuriteit in kennis stel indien iets sou verkeerd gaan. Hoekom nie een van daardie huise teiken nie?” was Grobler se verdere woorde.

Me. Amanda van der Merwe, Moorcroft se skoonsuster het Maandag, 19 Desember aan WITBANK NUUS vertel dat hulle ook nie weet wat gelei het tot die noodlottige voorval nie.

“Ons het nog nie begrafnisreëlings getref nie, aangesien ons nog wag vir die nadoodse ondersoek. Hulle het gesê miskien vandag of more. Ons sou almal die dag saam deurgebring het vir Kersfees, onder by die dam,” het Van der Merwe vertel.

Sy het Moorcroft as ’n baie liefdevolle- en omgeemens beskryf met ’n sagte persoonlikheid. Sy het ook gesê dat hy op Wonderfontein gewerk het as ’n bestuurder.

Die Moorcrofts het ’n dogter en ’n seun. Hul seun is verlede Saterdag getroud en die pasgetroudes was op ’n Kaapse-wittebrood toe hulle van die hartseer voorval moes verneem en hulle wittebrood kortknip.
’n Saak van huisroof en moord is by Witbank Polisiestasie geopen en word steeds ondersoek.

LEES OOK:
Man (45) dood na mes-moord
Gesinsmoord eis twee

Check Also
Close
Back to top button