CrimeNews

Koop van houthuise ontaard in aanranding

Hul het aan die Gerbers gesê dat hulle so wit soos varke is en dat hulle met messe gaan kom.

Na hul ’n goeie daad wou doen, het die episode ontaard in iets wat die Gerbers nie vinnig sal vergeet nie.

Op Vrydag, 7 Oktober was hul verneder in hul eie huis toe drie mans hul oorweldig het.

“Ek het na advertensies gekyk omdat ons tans vir Gertjie Jansen van Vuuren huisves nadat hy alles verloor het in die brand by El Paso twee weke gelede. Ons het vir hom ’n tent in ons erf opgeslaan vir tyd en wyl, maar het gekyk vir ’n houthuis waarin hy vir eers kon bly. Ek het op die advertensie afgekom en die mense het my R4700 gevra vir ’n 3×4 houthuis. Hulle het gesê dat ek 80 stene ook moes koop. Ek het gesê dat ek later sal terugkom met ’n besluit en ons het besluit om die prys te aanvaar. Ek het gister bevestig en hulle sou die houthuis vandag kom opsit,” het me. Bettie Gerber vertel.

Sy het verder vertel dat hulle intussen ’n goedkoper aanbod gekry het, en sy het ook vertel dat sy die mense gebel het om te kanselleer.

“Ek en my man was in die dorp vanoggend, hulle het gebel en gesê dat hulle in eMalahleni is, en dat hulle die houthuis wil kom opsit. Ek het aan hulle verduidelik dat ek gebel het en die huis gekanselleer het, en toe ons weer sien staan hulle voor die hek. Hulle het in die huis ingestap asof die huis aan hulle behoort en my man het hulle gevra om liewer buite te wag. Intussen het ek die polisie geskakel en met diè wat ons hulle uit die huis en erf wou kry, het hulle my man se bril van sy gesig afgeklap,” het Gerber verder vertel.

Sy het ook bygevoeg dat die polisie daar aangekom het, en dat die polisie haar en haar man beveel het om die mense R200 te betaal. Dit het hulle gedoen, maar hulle het hul bakstene weer gevat en gery. Dreigboodskappe was later ontvang vanaf een van die mans wat lui: ‘you think you are clever, wait you will see,’ en ook: ‘It’s better we know where you stay, so you will see.’ Op die mans se pad uit, het hulle aan die Gerbers gesê dat hulle so wit soos varke is en dat hulle met messe gaan kom.

“Ons vrees op hierdie stadium vir ons lewens, aangesien hulle ongelukkig weet waar ons bly. Die polisie het nie veel aan die saak gedoen terwyl hulle hier was nie, maar meer besorg oor die ouderdom van my dogter en wat sy doen onder haar ouers se toesig. Ek weet nie of hulle gaan terugkom nie, ons is op hierdie stadium bang vir enigiets,” het me. Gerber verder gesê.

Jansen van Vuuren het in die verbygaan vertel dat hierdie mense hom verskriklik tegemoet kom, en dat hy nie weet wat hy sonder hulle sou doen nie.

“Hierdie mense is so goed vir my. Ek is baie dankbaar vir hulle hulp,” het hy gesê.

Die eienaar van die besigheid is gekontak, en het bevestig dat een van die drie mans wat daar was, mnr. Gerber deur die gesig geklap het, asook bogenoemde inligting bevestig.

“Ons bly nie in die dorp nie, en moet ver ry. Iemand moet die werk betaal van die houthuis wat gebou is aangesien ons dit klaar gedoen het. Ons bly in Pretoria en die uitgawes is hoog,” het hy gesê, en verkies om anoniem gehou te word.

’n Saak van aanranding is by die polisie gemaak en word steeds ondersoek.

LEES OOK:
Operasie nodig na aanranding
Saak teen leerders word verder ondersoek

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button