CrimeNews

Raaisel oor roof laat inwoners wonder

“Ek het gehoor hoe iemand aanhoudend gil en toe hoor ek ’n geweerskoot net enkele minute later. Ek het uit gehardloop met die gille..."

Een man is geskiet en ’n ander erg aangerand tydens ’n gewapende roof buite ’n besigheidskompleks.
Vrydagoggend, 9 September het histeriese gille en ’n geweerskoot die werknemers in die Smokey Mountain Besigheidskompleks laat rondhol in angs.

cv450Ars1
Die skietwond wat mnr. Motong Mpheri opgedoen het tydens ’n gewapende rooftog.

“Ek het gehoor hoe iemand aanhoudend gil en toe hoor ek ’n geweerskoot net enkele minute later. Ek het uit gehardloop met die gille en toe weer teruggedraai na my kantoor toe om my handradio te gryp en die sekuriteit te roep. Dit is toe die skoot klap,” het die gebou-bestuurder van die besigheidskompleks, me. Lizelle Steyn gesê.

Volgens Steyn het sy ’n blou Ford Focus sien wegtrek en die registrasie van die voertuig gekry.

“Ek het die polisie en ambulans daar en dan gebel en self na die toneel toe gestap. Daar het ek op twee bebloede mans afgekom. Die een man het so tekere gegaan waar die ander een wat se kop gebloei het, net bly sit het,” het Steyn gesê.

cv450Brs
Een van die rowers se vuurwapen wat op die toneel gevind is na die rooftog.

Mnr. Motong Mpheri het aan WITBANK NUUS vertel wat daardie oggend gebeur het.

“Ek was eers by Standard Bank gewees om lone te trek vir my werkers. Ek en die ander man wat saam met my gery het, het daarna ’n kluis gaan regmaak by ’n besigheid in die kompleks. Soos ek uit my bakkie wou klim het drie mans op my toegesak en net begin slaan. Ek het uit die kant van my oog gesien hoe die ander twee mans die passasier ook aanval, al vyf rowers het wapens gehad. Ek het geweier om my kontant uit te haal en aan hulle te oorhandig en dis toe die een rower die geweer skuins teen my kop gehou het en ’n skoot afgegaan het,” het Mpheri gesê.

Nabygeleë besighede se personeel het ook bevestig dat hul die gille en geweerskoot gehoor het.

cv450crs
Die boor wat die rowers gebruik het om mnr. Motong Mpheri te martel vir sy kontant.

“Ek het dit gehoor en dadelik by die venster uitgekyk en vier mans uit ’n blou Ford sien klim en toesak op die arme twee slagoffers,” het me. Mariëtte van Zyl gesê.

Daar is ook beweer deur me. Linda Herringer dat die rowers glad nie haastig gelyk het nie en stadig weggery het na die voorval.

Op die toneel is daar ’n wapen wat na bewering aan een van die rowers behoort, gevind.

“Een van die rowers het sy rooi hoed ook met die stoeiery verloor of vergeet,” het Herringer vertel.

Volgens Mpheri het hy sy eie klein groep kontrakteurs wat pleisterwerk doen by ’n residensiële kompleks hier in eMalahleni op die oomblik.

“Amper dieselfde voorval het met die ander man wat saam met my werk gebeur so rukkie terug. Nou is my mense kwaad vir my omdat ek hul nie kan betaal nie en waar kry ek nou R30 000 om hulle te betaal?” het Mpheri verward gevra.

Hy het ook beweer dat die passasier ’n groot bedrag geld aan hom gehad het.

“Ek dink dit was oor die R20 000 wat by hom gevat is, maar ek ken nie die regte bedrag nie,” het hy gesê.

Nog geen arrestasies is gemaak in verband met die rooftog nie, maar die polisie is besig om verdere ondersoek in te stel.

LEES OOK:
Verdagte duik deur venster om vrou te roof
Ses jaar agter tralies vir gewapende roof

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button