Local newsNews

Chantelle verloor stryd na val

Daar is geen manier om ’n ouer voor te berei op die dood van hul kind nie...

Daar is geen manier om ’n ouer voor te berei op die dood van hul kind nie.
Daar is geen tasbare beginpunt nie, geen waarskuwing, niks wat die bitter gevoel van verlies kan vul nie.

Vir me. Elsabé Otto en mnr. Manie Strydom het die onverwagse dood van hul 27-jarige dogter Chantelle Hattingh op Dinsdag 31 Mei nog nie ingesink nie.

Otto het met ingehoue emosie vertel dat Chantelle erge hoofpyne ervaar het nadat sy op 19 Mei by die werk geval en haar kop gestamp het.

“Chantelle se verloofde, Alta van Vollenstee het gesê Chantelle het flou geword en geval. Toe sy bykom was sy deurmekaar en het van daar af met die hoofpyne gesukkel,” het Otto gesê.

Van Vollenstee het haar na ’n kliniek geneem en sy is later in die hospitaal opgeneem.

“Ons het haar na Kosmos Hospitaal oor laat plaas sodat ’n breinskandering gedoen kan word. Daar het die dokter vasgestel sy het bloeding op die brein. Hy kon nie glo dat sy al so lank uitgehou het nie.”

Otto het genoem dat Chantelle moontlik aan ’n genetiese kondisie gely het, wat ook aanleiding tot haar dood kon gegee het.

Op die familie se besluit is Chantelle weer na Witbank Hospitaal se intensiewe sorgeenheid oorgeplaas.

“Die hospitaal se personeel het ons geskakel en ons moes besluit of ons die masjiene wou afsit. Daar was niks meer wat vir Chantelle gedoen kon word nie,” het Otto gesê.

Terwyl die familie die opsie om die masjiene af te sit moes oorweeg, het Otto gebid en vertrou dat Chantelle die stryd sou wen.

Die feit dat sy voor die tyd self gesterf het, het ’n berusting oor Otto gebring.

“Ek het langs haar bed gesit en met haar gepraat. Ek het haar oor en oor vertel sy is sterk en sy kan hier deurkom, maar dit was nie bestem nie.”

Die personeel van Brazen Head waar Chantelle gewerk het, was nog steeds in skok oor haar dood.

“Chantelle was Brazen Head. Ons gaan haar ongelooflik baie mis,” het me. Carolyn Haven van Brazen Head gesê.

Chantelle laat haar ma Elsabé, pa Manie, susters Jessica Odendaal, Jennifer de Lange, verloofde Alta van Vollenstee, stiefseun Bradley Blignaut en familie agter.

LEES OOK:
Gru-ongeluk eis lewe: 24-jarige ma van twee sterf tragies
Motorfietsryer sterf week na ongeluk

Check Also
Close
Back to top button