CrimeNews

Twee minute roof

Dit het net twee minute geduur vir rowers om ’n drankwinkel verlede week te beroof.

Dit het net twee minute geduur vir rowers om ’n drankwinkel verlede week te beroof.

“Dit het gevoel soos ’n hele uur”, het me. Tanya Cloete die eienaar van die drankwinkel by Riverview in Gordonweg gesê na die gewapende roof op Vrydag 12 Februarie.

Omstreeks 17:00 het die kassiere van die winkel, soos elke ander dag, kliënte gehelp toe ’n groep van vyf onbekende mans die winkel inkom.

“Ek het gesien hoe een van die verdagtes weer uitloop en het maar gedink dat dit net ’n kliënt is wat nie gekry het wat hy wil nie. Toe ek weer omdraai staar ek ’n geweer in die gesig,” het een van die kassiere, me. Marzyne Naudé vertel.

Die man wat uitgeloop het, het glo weer teruggekom en by die deur bly staan terwyl die ander vier verdagtes hul rondte deur die winkel gemaak het.

CV237rs
Videomateriaal wat wys hoe een van die rowers twee kassiere aanhou met ’n wapen tydens ’n gewapende roof by Riverview Drankwinkel in Gordonweg op 12 Februarie.

Een van die verdagtes het by die betaalpunt gestaan en wag dat die kassiere al die kontant uit die kasregister haal terwyl ’n ander verdagte na die agterkant van die winkel gestap het waar daar ’n kliënt en ander werker was.

“Ek was besig agter in die kantoor toe ek ’n onbekende man by die deur sien met ’n geweer in sy hand. Ek het dadelik gemaak soos hy sê en op die vloer gaan sit langs ’n kliënt wat die rower ook agter toe gedwing het,” het me. Bianca Terblanché, ’n werknemer, gesê.

Me. Cloete was besig om voorraad te tel. Toe sy in die winkel kom het sy een van die kassiere ’n vraag gevra waarop die kassier nie geantwoord het nie. Dit is toe sy die gewapende man langs die kassier sien en besef wat gebeur. “Ek weet nie waar my kalmte vandaan gekom het nie,” het Cloete ook gesê.

Die verdagte wat met die kassiere besig was het vir Naudé gesê sy moet net stilbly en die geld vir hom vinnig gee of hy skiet haar.
Terwyl die twee booswigte die dames aangehou het, het die ander drie hulself gehelp met van die duurste drank in die winkel.
Met al die gebeure wat in twee minute plaasgevind het, was mnr. George Mgidi, ook ’n werker, in die yskas doenig.

“Ek het gesien hoe ’n man afloop op die kliënt en sy haar hande in die lig steek. Ek het by die yskas uitgeklim en vir die man gevra wat aangaan, het Mgidi vertel.

Die man het vir Mgidi gesê dis niks met hom te doen nie en dat hy moet stilbly.
Op die videomateriaal wat aan WITBANK NUUS verskaf is, word daar duidelik gesien hoe die rowers hul taak uitvoer terwyl die werkers in angs hul samewerking gee.

KYK VIDEO HIER:

Die drankwinkel is beroof van meer as R15 000 kontant en R12 000 se waarde aan alkohol.
’n Toeskouer het na bewering net na die roof bottels gehoor wat teen mekaar stamp en drie vreemde mans sien hardloop na ’n wit Polo sonder registrasie plate.
Nog geen arrestasies is gemaak nie, maar die polisie is besig met verdere ondersoek.

“As ek daardie man sien wat met my gepraat het, sal ek vir die polisie kan wys,” het Mgidi ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button