CrimeNews

Dief beloof hy gaan nou kerk toe

’n Dief het sy moses verlede week behoorlik teëgekom toe hy sy vroulike slagoffer onderskat het.

’n Dief het sy moses verlede week behoorlik teëgekom toe hy sy vroulike slagoffer onderskat het.
Hy het nog gedink hy hardloop weg met die selfoon wat hy sekondes vroeër uit ’n vrou se kar gesteel het, toe trek sy hom so te sê plat. Toe die dief me. Maureen Scheepers se selfoon gryp het sy net besluit dis die laaste strooi, sy gaan hom nie laat wegkom nie.

Sy, haar vriend Barend Burger en haar twee kinders, Rosley en Madison het op 26 Januarie by die verkeerslig by Highland Mews gewag vir hul beurt om te ry toe die dief sy kans waargeneem het.

“Ek het die niksnut op die middelman gesien staan en tog nie veel aandag geskenk nie. Die volgende oomblik toe druk hy sy hand deur my oop venster en gryp my selfoon wat op my skoot gelê het,” het Scheepers vertel.

Die booswig het in die rigting van Pick n Pay gehardloop met Burger wat hom agternagesit het.

ze61-1rs
Dié dief het nie gedink sy slagoffer gaan hom vang nie.

“Net daar toe maak ek ’n U-draai, ry sommer oor die middelman vat die slipweg so skuins voor E-Toons. Ek het behoorlik net hakskene gesien soos hy gehol het,” het Scheepers vertel.

Toe die dief so om die hoek agter E-Toons kom toe hardloop hy letterlik in Scheepers se kar vas.

“Ek het hom so liggies gestamp en uitgespring. ’n Karwag met die naam Anthony het gesien wat gebeur en die dief met ’n regte rugby-laagvat grond toe gevat.”

Dinge het amper hand uitgeruk toe die gemeenskap nader staan en die dief begin skop en slaan.
Intussen het Witbank 911 op Scheepers se roep gereageer. Hulle moes inderhaas na ’n ander toneel toe ry en vir haar kabelstrop gegee waarmee sy die dief vasgebind het.

“Die gemeenskap was woedend en het aanhoudend gesê ek moet nie die polisie bel nie, hulle sal hom self uitsorteer,” het Scheepers gesê.

Sy het die dief in haar kar gelaai en hom met ’n sitplekgordel vasgemaak en polisiestasie toe gevat.
Daar het Scheepers uitgevind hy het voorheen ’n kragopwekker gesteel.

“Ek het lank met die dief gesels en hy het beloof sodra hy uit die tronk kom sal hy saam met my kerk toe gaan,” het Scheepers gesê.

Die dief het die volgende dag in Witbank Landdroshof verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button