CrimeNews

Rowers teiken plotte

Sy voete sleep swaar oor die vloer en die naar gevoel wil hom oorweldig. Hy volg die klank van desperate angs, tot waar hy die sekuriteitswag vasgebind op die grond aantref...

Na menige inbrake en rooftogte by die Jackaroo-plotte, het mnr. Schalk Coetzee ten goede besluit om ’n sekuriteitswag aan te stel om sy familie en goedere te help beskerm.

Woensdagaand 8 Julie, het die wag sy nagpatrollie soos gewoonlik geloop, toe hy glo onverwags deur vyf verdagte mans betrap is.
“Ek het so rondom 22:00 die aand gaan slaap,” het Coetzee vertel. Omstreeks 00:50, vertel Coetzee, het hy weer wakker geskrik. “Ek was baie naar en kon glad nie my aanstaande langs my wakker kry nie.” Coetzee vermoed dat hy en sy gesin bedwelm was sodat hul juis nie wakker word tydens die roof nie.

Coetzee het die sekuriteitswag buite die huis aangetref waar hy vasgemaak was met skoenveters. Die wag was glo oorrompel deur drie van die vedagtes.
Die verdagte mans het Coetzee se Nissan NP200 bakkie gevat waarop hul glo motorbatterye gelaai het, sowel as ’n Yamaha 200cc Bluster vierwielmotorfiets.
“Ek het 01:10 Tracker gekontak en 01:12 die polisie gebel.”

Die vermiste vierwielmotorfiets. Mnr. Schalk Coetzee bied ’n beloning vir enigiemand wat die vierwielmotorfiets kan opspoor en aan hom terug besorg.
Die vermiste vierwielmotorfiets. Mnr. Schalk Coetzee bied ’n beloning vir enigiemand wat die vierwielmotorfiets kan opspoor en aan hom terug besorg.

Omstreeks 02:20 het Coetzee ’n oproep ontvang dat sy Nissan bakkie in Old Corronation gevind is. “Die polisie het op die verdagtes geskiet en ek het my bakkie terug gekry met twee koeëlgate aan die agterkant.”
Niemand is gewond tydens die skietvoorval nie en die verdagtes is weg met die gesteelde batterye en vierwielmotorfiets, sowel as die radio van die Nissan bakkie.
“Die sekuriteitswag moes twee of drie steke gekry het, na die rowers hom aangeval het,” het Coetzee ten slotte vertel.

Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie en polisie waarsku die gemeenskap en plot eienaars om op die uitkyk te bly vir verdagte persone.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button