Local newsNews

Vier beseer na ongeluk op OR Tambo

‘Die pad van die dood’, oftewel OR Tambostraat het nog ’n ongeluk op sy kerfstok.

Op Saterdag 9 Mei het ‘n botsing tussen ’n Honda en ‘n Audi Q5 vier mense beseer gelaat.
Na bewering was die Honda vanaf die ou- Middelburgpad af onderweg en die Audi was in die rigting van die Middelburgpad oppad.
Die drywer van die Audi, mnr. Mack Maleka, beweer dat die bestuurder van die Honda beheer verloor het oor die kar, toe die botsing plaasgevind het.
“Ek was saam my vrou oppad Middelburg toe, en het net skielik ‘n kar na my kant toe sien kom,” het Maleka verduidelik. “Ek is so dankbaar dat ek en my vrou nog lewe. Ons het twee kinders”.

Die Audi Q5 wat betrokke was in die ongeluk.
Die Audi Q5 wat betrokke was in die ongeluk.

Maleka se vrou, me. Shamiema Maleka, is in die hospitaal opgeneem weens beserings aan die L1 been in haar rug. Volgens Maleka kan besering aan hierdie been tot verlamming lei as dit nie reg behandel word nie. Sy is nog steeds in die hospitaal. Maleka sê dat hy dankbaar is hy en sy vrou het hulle veiligheidsgordels gedra.
Maleka het nie ernstige beserings opgedoen nie, net sy been en sy bors was seer, vermoedelik van die lugsak.
Daar was drie jong mans in die Honda. Al drie is beseer. Daar kon egter teen druktyd nog nie vasgestel word hoe ernstig hul beserings is nie.
“Hoeveel ongelukke moet nog op hierdie pad gebeur voordat iets hieraan gedoen word?” het Maleka gevra.
‘n Saak van roekeloos en nalatige bestuur word ondersoek.

*Nog ‘n ongeluk het Vrydag 8 Mei omstreeks 19:00 op die ou-Middelburgpad plaasgevind. . Daar was drie karre betrokke in die ongeluk.
Volgens die drywer van die Opel Corsa, was hy oppad Witbank toe, van Middelburg af. Die Corolla was ook oppad Witbank toe en het hom verbygesteek. Die Corolla het toe met ‘n Toyota Hi Ace gebots, wat oppad Middelburg toe was. Dit was toe dat die Corsa ook betrokke geraak het.

Na bewering het die drywer in die Toyota Corolla vasgesit. ‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur is oopgemaak vir verdere ondersoek.

Check Also
Close
Back to top button