Local newsNewsUpdate

Francois se ouers sterk vir ander

Vroeër die week het die Clarence-gesin finaal afskeid geneem van Francois Clarence wat verlede week in ’n fratsongeluk oorlede is.

Die 17-jarige Francois is Dinsdag 17 Maart oorlede nadat hy die middag deur ’n weerligstraat op die Hoër Tegniese Skool se rugbyveld getref is.
In Francois se begrafnisbrief lees dit: “Ek was ’n jongman, my lewe voor my, soveel drome, ideale. Die toekoms wat wink voor my. Skielik klop die dood aan my deur en ek verruil alles wat ek het vir wat Jesus bied. Pa, Ma, broers, gemeentelede, vertrouelinge en vriende: ‘Sal julle deur jull etrane sien, my lewensboodskap hoor?’ Ek was jonk maar ek moes gaan. Jesus was die een wat die weg moes baan. ‘Lê jou lewe voor Hom neer, môre moet jy dalk voor Hom staan!’ Gaan jy alles verruil vir wat Jesus vir jou bied? God het my geroep- dit is Sy wil.”

Die is woorde wat ds. Willem Esterhuizen uitgelees op Maandag 23 Maart by Francois se begrafnisdiens wat uit die NG Kerk, Panorama plaasgevind het.
Die kerk was volgepak, ’n duidelike teken dat dié jongman baie mense tydens sy kort leeftyd aangeraak het en baie mense sy skielike dood betreur.
Ds. Esterhuizen het gepraat oor Francois wat die mense ‘natgespat’ het met sy liefde, vriendelikheid, ondersteuning en met sy persoonlikheid.
Familielede het opgestaan en net goeie woorde oor dié jongman gesê. Francois se ma, me. Erika Clarence het ’n brief geskryf wat uitgelees is in die kerk.

Die Clarence-gesin se huishulp word uit die kerk gehelp deur me. Erika Clarence.
Die Clarence-gesin se huishulp word uit die kerk gehelp deur me. Erika Clarence.

Twee van die seuns van die eerstehokkiespan het oor Francois gepraat, hoe hulle hom sal onthou as hulle ‘Gravy.’
Francois se ouma het die volgende brief geskryf: “Frannie, hoe groet ek jou? Jy was so spesiaal en na aan my, ons het saam vakansie gehou, saam muurbal gespeel, saam in dieselfde kamer geslaap en gesels tot laat want ons het ewe min geslaap. Frannie het altyd sy rekenaar- en selfoongestremde Ouma se reperasies en instellings gedoen, en oor en oor verduidelik met baie geduld. Daar is ’n groot leemte wat altyd jou plekkie sal wees. Ek is lief vir jou, maar God is liewer vir jou, daarom het Hy jou kom haal.”

Opmerklik tydens die diens was hoe Francois se ouers sterk gestaan het en vertroosting gebied het aan Francois se vriende en mede-skoliere.
Francois laat sy ouers en broers, Pieter en Carel agter.

Francois se broers, Pieter en Carel dra hulle broer Francois se kis op Maandag 23 Maart.
Francois se broers, Pieter en Carel dra hulle broer Francois se kis op Maandag 23 Maart.

Francois se ouers het die volgende geskryf:
Francois was ‘n leerling in Gr11 aan die Tegniese Skool Witbank. Ons as ouers en sy broers wil almal wat ons in hierdie tyd ondersteun het bedank.

Dankie! Vir die handdruk wat u gegee het. Die kaartjie wat u gestuur het. Die oproepe , die bystand wat u verleen het, die gebede u gedagtes wat na ons toe uitgegaan het.

Daardeur  het u vertroos  en versterk. Vir alles se ons baie dankie!!!
Clarence Familie

Back to top button