CrimeNewsUpdate

77-jarige op plaas aangeval

’n 77-jarige man is erg beseer nadat hy vroeër die week op sy plaas in Balmoral aangeval is deur drie rowers.

Die voorval het Dinsdag 17 Maart net na 12:00 gebeur nadat mnr. Nicolas Mienie van die dorp af by sy plaashuis aangekom het.
“Ek het in die kombuis gestaan toe een van hulle uit die opwaskamer gestap kom met ’n rewolwer in sy hand,” het mnr. Mienie vertel.
Nog twee mans het by die man aangesluit en die drie het Mienie omring.
“Hulle het my hande agter my rug vasgebind en my voete ook vasgemaak. Ek moes op my maag lê. Hulle het ’n sak oor my kop getrek en my begin skop en slaan,” het mnr. Mienie vertel, terwyl bloed van sy gesig afloop.

Mnr. Nicolas Minie het hiér in die kombuis op sy maag gelê, terwyl die rowers hom aangerand het.
Mnr. Nicolas Minie het hiér in die kombuis op sy maag gelê, terwyl die rowers hom aangerand het.

“Ek was by my werk in Thembalethu toe ek die oproep ontvang van my dogter oor my man wat aangerand is,” het me. Meraai Mienie gesê.
Mienie se seun, Kobie was eerste op die toneel na die plaaswerkers. “Ek dink die aanval hou verband met verbode jagtery waarin die jagter gearresteer is so drie weke gelede,” het ’n geskokte Kobie gesê.
Nadat die rowers Mienie aangerand het, het hulle deur die huis gegaan en juweliersware gevat.
“Hulle het ’n klomp klere gesteel wat ons ingesamel het om aan welsyn te skenk,” het me. Mienie gesê.
Die rowers het die skilderye wat in die hoofslaapkamer teen die muur gehang het afgehaal op soek na ’n kluis. Hulle het die kluis gevind in een van die kaste. Nadat hulle die sleutel opgespoor het, het hulle ’n windbuks geweer daaruit gevat. Hulle het daarna ook die koperpotte in die huis bymekaargemaak.

“Die ergste ding is dat hulle in jou privaat goed krap,” het me. Mienie gesê.
Die rowers het hulle buit op Mienie se 1997 Toyota bakkie gelaai. Voor hulle weggery het, het een van die rowers Mienie losgemaak met ’n mes. “Hulle kon hom net daar en dan doodgemaak het,” het me. Mienie gesê.
Langamed Ambulansdienste het Mienie op die toneel gestabiliseer, terwyl Vosman polisiebeamptes op die toneel gesoek het na leidrade.
’n Erg bebloede mnr. Mienie is na Life Kosmos Hospitaal geneem. Sy linkeroog is erg beseer, asook sy skouer.
Volgens Mienie se gesin is dit die eerste plaasaanval in die ses jaar wat hulle in Balmoral-omgewing woon, waarvan hulle kennis dra. Hulle meen dat huis inbrake die mees algemene vorm van misdaad in dié gebied is.

Die rowers het die skilderye van die muur afgehaal in hul soeke na ’n kluis.
Die rowers het die skilderye van die muur afgehaal in hul soeke na ’n kluis.

*Die getal plaasmoorde het tot 67 gestyg sedert 2014 in vergelyking met die vorige jaar se 62, volgens Afriforum en die Transvaalse Landbou-unie (TLU). Daar was 277 plaas-aanvalle in 2014, wat die organisasies glo is die hoogste syfer sedert 1990. Die 132.2 moorde op plase per 100 000 mense is meer as dubbel die moordsyfer vir polisiemanne (54.4 per 100 000 mense) en 32.2 per 100 000 vir die hele land se populasie, volgens dié unies.
info

‘n Buurman van Mienie se opinie van die polisie situasie oor inbrake op Balmoral:

WARNING GRAPHIC CONTENT – Video: Farmer bound and severely beaten by assailants – click here.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button