Local newsNewsUpdate

Motorfietsryer kritiek na ongeluk

’n Jong motorfietsryer verkeer tans in ’n kritieke toestand in die hospitaal na ’n ongeluk aan die begin van die naweek.

Die 24-jarige Euleine de Kock, beter bekend as ‘Happy Feet’, word tans in die intensiewe-eenheid van Witbank Hospitaal behandel.
Die ongeluk het Vrydag 19 September omstreeks 10:30 in die kruising van OR Tambo- en Kiepersolstraat gebeur.

Eulaine was in die rigting van die Bethal-pad op haar Suzuki-motorfiets onderweg toe die botsing plaasgevind het. Die bestuurder van die wit Audi was in die teenoorgestelde rigting in OR Tambostraat oppad en wou regs draai in Kiepersolstraat in. Die motorfiets het die voertuig tussen die voor- en agterdeur getref.

Sover vasgestel kon word is die bestuurder van die voertuig nie beseer nie.
Behalwe dat Eulaine se nek gebreek is en sy ernstige hoofbeserings opgedoen het, is haar bekkenbeen op drie plekke gebreek. Haar gewrig en kakebeen is ook gebreek en haar borsbeen gekneus.

“My kind word tans in ’n mediese koma gehou sodat die swelling aan haar kop kan sak,” het me. Madeleine Swanepoel Maandag 22 September gesê. Volgens me. Swanepoel is haar dogter Dinsdag 23 September op dialise geplaas omdat haar niere ook probleme gee.

“Eulaine is baie lief vir motorfietse en ry al van kleins af. Sy was ’n paar jaar terug ook in ’n motorfietsongeluk waarin sy haar been beseer het en loop nou effens mank, vandaar het haar vriende haar die bynaam ‘Happy Feet’ gegee,” het me. Swanepoel gesê.
“Medies-gesproke word alles vir Eulaine gedoen, ons kan nou net bid,” het me. Swanepoel afgesluit.

2 Comments

  1. Vriendin ons Sal aanhou vir jou bid weed sterk en hou aan baklei asb. Ons soek weer ons happy feet terug. Ons is almal lief vir jou. Sterkte aan Eugene en tannie Madeleine dink aan julle en is enige tyd daar vir julle

Check Also
Close
Back to top button