Local newsNews

‘Sout & Saffraan’ is hul kreatiewe sout werd

Dié plaaslike musiekgroep nooi die gemeenskap uit na hul optrede op 12 Augustus.

‘Sout & Saffraan’ is ’n nuwe plaaslike musiekgroep van eMalahleni, en bestaan uit twee lede: Lillibet Steyn en Peter Venter.

Lillibet en Peter se paaie het ongeveer ’n jaar gelede gekruis toe hy ingeskryf het om klavierlesse by haar te ontvang.

Van daardie oomblik af het die musieknote die lug begin vul.

Hul eerste ‘nie-amptelike’ optrede het verlede jaar plaasgevind by ’n jaareindkonsert wat gehou is deur Lillibeth se musiekstudente.

Die groep het toe in Februarie maand by ’n Valentyns-piekniek van ’n plaaslike plek opgetree, en ook ’n konsert daar gehou in Maart.

“Ons speel en sing musiek want dit bring ons vreugde. Beroemdheid is nie die doel nie, net om goeie musiek te maak. Ons wil graag bou aan die fyner dinge in die lewe vir mense wat dit waardeer,” het Lillibeth gesê.

Hul kreatiwiteit en optredes het nie daar gestop nie, en die groep het hul eerste amptelike optrede onder die naam ‘Sout & Saffraan’ gehad in Junie by ’n plaaslike digter, Elzabe Young-Heyns se bekendstelling van haar nuutste digbundel.

By die bekendstelling het ‘Sout & Saffraan’ die woorde op papier na musieknote omgeskakel toe hulle drie van Elzabe se gedigte getoonset het.

“Dit was ’n ongelooflike voorreg om met Elzabe se teks te kon werk. Ek is tans doenig met ʼn verdere vier van haar gedigte,” het Lillibeth gesê.

Die groep nooi die gemeenskap hartlik uit na hul eerste vollengte konsert as ‘Sout & Saffraan’ op 12 Augusts vir ’n atmosfeer vol sang, klavier-, kitaar-, bekfluitjie- en trekklaviernote.

“Dit is baie eksklusief, maar dit gaan ʼn bitter besonderse aand wees. Ons gaan ʼn wye verskeidenheid van 80s, 90s en verder se ‘rock’ musiek doen, asook van Elzabe se gedigte, my eie klavierverwerkings, Afrikaanse vertalings van bekende liedjies en tydlose Afrikaanse treffers van Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Koos Kombuis.”

Vir meer inligting oor die konsert, besoek gerus hul sosiale media blad ‘Sout & Saffraan’.

Vanaf gedigte tot vertalings van liedere, is daar nie ’n limiet aan hul kreatiwiteit nie en Lillibet en Peter verdien definitief hul kreatiewe sout.


Deel jou nuusbrokkies met ons

Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za

Of volg ons op sosiale media platforms

Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button