Local newsNews

Munisipaliteit se oplossings vir riool stink!

Riool wat opdamp voor ’n inwoner se huis in Reyno Rif.

In eMalahleni werk dinge heeltemal anders as jou gewone stad – hier val paaie in, krag kom en gaan en riool kook op in strate.

Die aangaande probleem van onhigiëniese toestande waarin menigte inwoners hul self op ’n daaglikse basis bevind, hou net nie op nie!

WITBANK NUUS berig keer op keer oor riool wat die strate van die Steenkoolstad afstroom.

In plaas van ’n ordentlike oplossing vanaf die munisipaliteit kom daar net tydelike oplossings…

Op Donderdag, 14 April het nog ’n inwoner haar stem verhef na daar ’n dowe oor op haar probleem gelê is.

“Dit is nou al meer as twee weke dat die hele buurt se riool opdamp voor my huis en my oprit. Ek het dit aan die munisipaliteit gerapporteer en so ook aan alle ander kanale maar steeds niks nie,” het Nicola Pelser aan WITBANK NUUS vertel.

Die riool probleem in die Reyno Rif area kom nie net van gister nie en is al ’n jare lange probleem.

Daar is die afgelope maand meer as vyf van die soort probleme onder die koerant se aandag gebring en so hoop die klagtes nogtans net op – soos die rou riool.

“Ek kan nie in sulke omstandighede lewe nie, my honde kan nie buite bly nie, kinders kan nie soos jou gewone kind eers buite baljaar nie, dit alles oor riool wat tot by jou voordeur opdamp,” het sy bygelas.

WITBANK NUUS het navraag gaan doen oor die aangaande probleem en Wyk 18 se raadslid, Salomie Kriel het al die bewyse vanaf haar kant bekend gemaak.

“Ek rapporteer dit op ’n daaglikse basis. Ek probeer tot die beste van my vermoë om hierdie rioolkwessie met meer belang aan te pak vanaf die munisipaliteit se kant af,” het Kriel gesê.

Die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr Lebo Mofokeng het teen druktyd geen kommentaar gelewer oor die bogenoemde probleem nie.  

Deel jou nuusbrokkies met ons – Telefoon: 013 656 2490, WhatsApp: 060 866 8682 of  Epos: info@witbanknews.co.za

Volg ons ook op dié sosiale media platforms: InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button