Local newsNews

Gebrande gras en riool smeul vir weke aaneen

Die Riverview riool-pompstasie is geleë teen die grensdraad van dié veiligheidskompleks

Inwoners van die rustige en natuurskoon Riverview Country Estate sukkel al bykans vier jaar lank, eenkeer ’n jaar met rioolslyk wat aan die brand gesteek word saam met die lang grasse in die omgewing.

Die probleem is egter dat die brand van die rioolslyk nie na ’n dag of twee ophou brand nie, maar nog smeul en die reuk vir meer as drie weke nog oor die inwoners se tuistes hang.

Die Riverview riool-pompstasie is geleë teen die grensdraad van dié veiligheidskompleks.

Alhoewel daar geen ander probleme is met die stasie nie, is dit net dié tyd van die jaar wanneer die inwoners so sukkel.

“Ek het al by elke deur aangeklop, elke relevante rolspeler gekontak, laat uitkom en hul beloftes is soos dié van ’n emmer met gate in,” het moedelose inwoner, mnr. Kobus van Lingen vertel.

WITBANK NUUS het self na die pompstasie gegaan om te kyk hoe dit in werklikheid lyk en met die inry by die kompleks het ’n walglike reuk in die vuil lug gehang.

“Sodra dié tyd van die jaar aanbreek, dan weet ons dat dit ’n swaar paar weke tot ʼn maand gaan wees ten koste van ons gesondheid. My vrou is konstant op ’n asmapompie gedurende dié tydperk wat die rioolslyk brand. Verlede jaar was ek plat gewees met Covid-19 en het die rook wat oor ons koppe lê vir seker die virus vir my swaarder gemaak – met my asemhaling,” het Van Lingen bygelas.

Na regte is die manier waarop die munisipaliteit ontslae raak van die rioolslyk onwettig.

Rioolslyk word gewoonlik na ’n verbrandingsoond gestuur en dan word die meeste daarvan verbrand, maar daar is ’n deel wat nie sal brand nie.

 

Hierdie deel word gewoonlik na ’n stortingsterrein geneem. Sommige van die chemikalieë in slyk kom in die lug as slyk verbrand word.

Die brandende slyk veroorsaak dan lugbesoedeling.

“Ek dink al rede hoekom hulle die lang gras aan die brand steek wat oor die rioolslyk groei, is omdat dit ’n makliker uitweg is as om die trekker wat op die perseel is te gebruik om dit ordentlik en wettig te doen,” is Van Lingen van mening.

Volgens wet moet die munisipaliteit alles in sy vermoë doen om skoon lugstandaarde te handhaaf.

Na talle pogings om terugvoer te kry van die relevante persone wat die pompstasie moet bestuur, het WITBANK NUUS geen terugvoer ontvang voor druktyd nie.

Deel jou nuuswenke met ons via:  

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za  

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:  

Instagram

Twitter

Witbank News toep

Facebook page

Witbank News Breaking

Back to top button