Local newsNews

HTS beheerliggaam is teleurgesteld in optrede buite skoolhek

Die assessering van die toetsreeks is ook uitgestel tot volgende Maandag.

“Moenie ’n interne skoolvoorval kaap vir eie agendas nie,” het die Hoër Tegniese Skool (HTS) se skoolbeheerliggaam in ’n persverklaring oor die geweld vroeër die week buite die skool, gewaarsku.

Die voorval wat aanleiding gegee het tot die gebeure was ʼn geveg op die skoolterrein tussen drie seuns op Dinsdag, 8 Junie . ʼn Video van dié bakleiery is wyd op sosiale media gedeel en het gelei tot beweerde rassespanning in die skoolgemeenskap.

“Daar is maniere om probleme aan te spreek en geweld sal eenvoudig nooit deel van daardie proses vorm nie. Die skoolbeheerliggaam sal nie toelaat dat die skool se reputasie deur die modder gesleep word deur leerders, lede van die skoolgemeenskap of buitestaanders nie.

As beheerliggaam is ons uiters teleurgesteld in die optrede van volwassenes wat veronderstel is om rolmodelle vir ons kinders te wees,” het mnr. Tius Cronjé, voorsitter van die skool se beheerliggaam gesê.

Cronjé het gesê die bakleiery tussen drie leerders word ondersoek ingevolge die skool se eie interne prosesse, soos voorgeskryf deur die Skolewet.

“Ons vra dus vir genoeg tyd sodat almal wat by hierdie ondersoek betrokke is, hul werk deeglik kan doen. Na aanleiding van die uitslag van die ondersoek sal optrede teen sommige of al die betrokke leerders geneem word. Dit bly egter ’n interne skoolaangeleentheid,” het Cronjé gesê.

Wat die gebeure buite die skoolhek op 14 Junie betref, het Cronjé gesê die beheerliggaam is dit eens dat die gereg sy loop moet neem.”

Die beheerliggaam ondersteun die polisie in sy ondersoek.”

Cronjé het gesê die beheerliggaam se eerste prioriteit bly egter die veiligheid van leerders.

“Geen optrede of inmenging van enige politieke faksie of eksterne organisasie sal geduld word nie. Die skoolbeheerliggaam het reeds die polisie se hulp ingeroep om te verseker dat geen verdere ontwrigting plaasvind nie.”

Die skool is intussen tot Maandag, 21 Junie gesluit om rolspelers die geleentheid te gee om die situasie aan te spreek en op te los.

“Ons het geen ander keuse gehad as om die skool in oorleg met die departement te sluit nie. Buiten dat leerders nie eksamen kan skryf onder sulke omstandighede nie, is dit ook ons plig om seker te maak dat leerders nie in gevaar gestel word nie.”

Die assessering van die toetsreeks is ook uitgestel tot volgende Maandag. Inligting hieroor sal aan ouers en voogde gekommunikeer word.

Cronjé het gesê inklusiwiteit is die grondslag waarop Suid-Afrika se toekoms gebou word.

“As ouers en onderwysers, as volwassenes, as rolmodelle is dit ons plig om seker te maak ons kinders se skoolopvoeding vind plaas in ’n omgewing waar hulle op ’n daaglikse basis sien wat goeie burgerskap behels. Die beheerliggaam van HTS sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat die skool se leerders toegang tot so ’n skoolomgewing het.”

ENGLISH SUMMARY FOLLOWS:

Technical High School governing body condemns behaviour outside school

“There are other ways to approach and resolve issues other than with violence and the school will never be part of the latter.

Die governing body will not allow the school’s reputation to be dishonoured by learners, members of the school community or outsiders.

As a governing body we are extremely disappointed in the actions taken by adults, that are supposed to be role models to our children,” said Mr Tius Cronjé, chairman of the Technical High School Governing Body in a press statement.

This comes after disruptions at the school on Monday, June 14 where groups of people gathered outside the school gates during which times altercations broke out among some of the people.

“We will not tolerate any interference of any political faction or external organisation. The school governing body already brought the situation to the police’s attention to assure that no further disruption will take place.

“Classes have been suspended to Monday, June 21 to allow role-players to address the situation and find a solution,” Cronjé said.

Share your news tips via:

Or follow us on WITBANK NEWS platforms:

     Instagram

     Twitter

    Witbank News App

     Facebook page

     Witbank News Breaking

Back to top button