Local sportSport

10 uit 10 vir Shumba Ferro’s

Shumba Ferro's het die afgelope naweek met beide spanne sy tiende agtereenvolgende oorwinning behaal toe die tweede span 20-7 en die eerste span 56-19 teen Sasol geseëvier het.

Lorent Ferro’s (tweede span) het takties uiters goed gespeel en vier drieë gedruk om met gemak die tweede liga te wen na afloop van die liga-fase. Sasol het nie antwoorde gehad vir veral die spel van Junior Laas (Bolt&Nuts Speler van die Wedstryd), Damian Bezuidenhout en Martin Prinsloo nie. Die lostrio was dodelik met hul verdediging en veral Bezuidenhout se aanvalle het Sasol radeloos gehad.

Die tweedes se drieë word gedruk deur Neil Rademeyer, Martin Prinsloo, Junior Laas en Damian Bezuidenhout.

Brendan Snel duik oor die opposisie se lyn om punte op die bord te sit vir Shumba Ferro’s. (Foto: Trevor Aingworth).
Brendan Snel duik oor die opposisie se lyn om punte op die bord te sit vir Shumba Ferro’s. (Foto: Trevor Aingworth).

Met die opdraf van die eerste spanne was dit duidelik dat Shumba Ferro’s lus was om te wys waarom hulle die huidige kampioene is. Voor- en agterspelers het met elke faset gekombineer en georkestreerde aanvalle geloods teen ‘n onthutste Sasol-span.

Met die halftyd telling reeds op 28-7 en die bonus punt in die sakkie was dit seker maklik om die voet van die pedaal af te haal, maar die Ferro’s manne het ‘n duplikaat tweede helfte gespeel en weer vier drieë gedruk.

Sasol het ‘n goed gebalanseerde span, maar Ferro’s was op die dag net te goed vir hulle. Jean Botha (Bolt&Nut Speler van die Wedstryd) en Jannie van der Merwe was akkuraat met hul verdediging en het Sasol se senters se spel ingeperk.

Op die aanval is alles deur die Ferro’s manne op vol spoed gedoen en met die uitsondering van ‘n onderskep drie deur Wayne Dryer is elke drie gedruk na volgehoue druk en fasette wat aanmekaar gesit is.

Jaco Marneweck het op stut ‘n reuse wedstryd gespeel en die veld vol gehardloop, selfs Sasol se agterspelers is deur die groot man se voetwerk geflous.

Wayne Dreyer van Shumba Ferro’s gaan kuier agter die pale. (Foto: Trevor Aingworth).
Wayne Dreyer van Shumba Ferro’s gaan kuier agter die pale. (Foto: Trevor Aingworth).

Hy is goed ondersteun deur Izan Green, Leslie Orton en Jackie Smit. Jeandi Oostuysen en Wernu Smit het in die lynstane en vaste los deurrentyd harde werk gedoen en gesorg vir ‘n stroom balle waarvan aanvalle geloods kon word.

Shumba Ferro’s se drieë word gedruk deur Brendan Snel, Wayne Dreyer (2), Izan Green, Pule Sibiya (2) en MC Botes. Jannie van der Merwe slaag met agt uit agt doelskoppe en druk self ‘n drie vir ‘n persoonlike punte bydrae van 21.

Ferro’s speel eerskomende naweek in die laaste ligawedstryd teen Middelburg op Kees Taljaard Stadion waarna die uitspeel-wedstryde gespeel gaan word.

Back to top button