CrimeNews

Boewe “wheel and deal” gedurende die inperking

Mnr. Anton du Bruto het deur boewe se slinkse modus operandi deurgeloop toe hy met ’n groot skok afgekom het op sy bakkie wat op bakstene staan in plaas van wiele.

Die Steenkoolstad lyk by tye soos ’n spookdorp sedert die nasionale inperking ingetree het, maar vir boewe is dit dié tyd om besigheid te doen soos diefstal daagliks toeneem.

Op 14 April het mnr. Anton du Bruto deur dié boewe se slinkse modus operandi deurgeloop toe hy met ’n groot skok afgekom het op sy bakkie wat op bakstene staan in plaas van wiele.

“Die aand voor die voorval het dit katte en honde in eMalahleni gereën en dit het gemaak dat my elektriese heining wat aan my alarm gekoppel is met tye afgegaan het. Ek het op ’n stadium die heining afgesit en gaan slaap,” het Du Bruto gesê.

Later die aand het die honde berserk begin blaf, maar die gesin het nie enige onraad vermoed nie.

“My dogtertjie het my wakker kom maak om en by 3:30 en gesê haar klein babahondjie wil buite toe gaan om te gaan ‘pieps’ toe ek die alarm afsit en my vrou saam die hondjie buite toe gaan,” het hy bygelas.

Sy vrou het oomblikke na dit hardop na Anton geroep en vir hom gesê dat hy onmiddellik moet kom kyk wat aangaan.

“Ek het buite toe gehardloop na die gil en daar het ek gesien dat my bakkie op bakstene staan. Hulle het my plaveisel uitgehaal, my wiele van my voertuig af gesteel en die bakkie so laat staan,” het hy gesê.

Omdat dit so baie reën het inwoners ’n sagte teiken geword, want hulle weet wanneer die beste tyd is om hul misdade uit te voer.

“Na verdere inspeksie het ek gesien dat die mense wat my bande gesteel het, my elektriese heining geknip en so toegang verkry het tot my erf,” het hy verstom gesê nadat hy onder die indruk was dat die weer die rede was vir sy elektriese heining wat probleme gee.

“As dit nie vir my fantastiese versekering was nie, sou ek dit doodeenvoudig net nie kon bekostig om die skade te herstel en die bande te vervang nie,” het hy bygelas.

WITBANK NUUS het op 15 Februarie berig oor ’n soortgelyke voorval wat met ’n inwoner gebeur het na hy die oggend afgekom het op sy voertuig wat staan op bakstene.

Met die toename in misdaad weens die inperking waarsku Witbank Polisie die gemeenskap oor die voortslepende misdaad aktiwiteite.

“Ek moedig die inwoners aan om in die tydperk paraat te wees en alle sake soos die oor te gee aan die polisie,” het Witbank Polisie se woordvoerder, kapt. Eddie Hall ten slotte gesê.

 

Back to top button