MunicipalNews

Die reuk van riool in Reynorif

Riool is nie net gevaarlik om aan te raak nie, die reuk van riool is ook gevaarlik om in te asem

“Ek wou netnou die badkamer gebruik het, maar toe ek die toilet wou spoel, stoot daar net meer en meer riool by ons dreinstelsel op,” vertel die bejaarde vrou se dogter.

Haar ma hou dae lank al huis met riool wat deur die leefarea vloei.

WITBANK NUUS het op 22 Junie besoek gebring by die huis in Centaury straat, waar die ouer dame en haar volwasse dogter woon.

“Dit kan nie gesond wees nie. Ons het per ongeluk laas toe dit gebeur het een van die honde laat uitglip in die tuin in. Voor ons ons oë kon uitvee het hy reeds ʼn mondvol rou riool opgevreet. Dit was nie lank voordat hy begin braak het nie. Hy het baie siek geword en ons was seker dat dit neergekom het op die riool waaraan hy blootgestel was.”

Die inwoners van die huis in Centaury straat het Vrydag die munisipaliteit in kennis gestel dat hulle woning onder water is, maar was teen Saterdagmiddag nog in dieselfde penarie.

“Dit gebeur so elke twee weke. Dit vat die munisipaliteit dae om dit te kom uitsorteer. Die mangat direk agter ons huis verstop en dan verspoel die hele erf. Laas het hulle ʼn blou een-stuk oorpak daar uitgevis,” het die dogter verduidelik.

Riool wat die huis deur die rioolstelsel verlaat, bestaan uit menslike uitskot, higiëne- en skoonheidsprodukte, seep, skoonmaakmiddels, skoonmaakprodukte en voedselafval.

Daar is drie hooftoestande waaraan ʼn persoon moet bekommer as hulle hulself blootgestel het aan rioolwater: Die eerste is gastro-enteritis (wat braking, diarree en meer kan veroorsaak), die tweede is hepatitis (wat ʼn verkleuring van die vel as gevolg van lewerversaking kan veroorsaak) en die derde is die risiko van infeksie (stukkende vel wat aan rioolwater blootgestel word, sal besmet raak en waarskynlik ontsteek).

Riool is nie net gevaarlik om aan te raak nie, die reuk van riool is ook gevaarlik om in te asem.

Rou riool produseer baie gasvormige verbindings. Algemene kleurlose gasse wat in rioolstelsels voorkom sluit in waterstofsulfied, koolstofdioksied, metaan en ammoniak.

Hoë vlakke van hierdie gasse kan giftig word, en hoë konsentrasies metaan en koolstofdioksied verplaas suurstof in die lug.

Beide waterstofsulfied en ammoniak het reuke wat ʼn mens waarsku oor hulle teenwoordigheid.

Metaan en koolstofdioksied het nie. Aangesien metaan en koolstofdioksied die suurstofinhoud in die lug rondom rou riool vervang, word die normale vlakke van stikstof in die area ook verhoog. Vermindering van suurstofkonsentrasies deur verplasing met ander gasse kan lei tot versmoring en weefselskade.

Die gevolge van die inaseming van rou rioolgas kan wyd wees.

Subtiele tekens van gasblootstelling kan hoofpyn, hoes, naarheid en irritasie van slymvliese insluit.

Mense wat daagliks aan rou riool blootgestel word kan hoofpyn, duiseligheid, moegheid, kortasem en oogirritasie ervaar.

Die munisipaliteit is genader om kommentaar te lewer, maar het teen druktyd nog geen antwoord verskaf nie.

Back to top button