CrimeNews

Man doodgesteek na onderonsie

Boodskappe van medelye stroom in, terwyl die ouerpaar leeg-gehuil probeer sin maak uit die mesdood van hul seun

Die Hoëveldse dorpie, Ga-Nala is geruk na die moord op ’n 32-jarige man verlede week.

In mnr. Johan Fourie se ouerhuis staan bosse en bosse ruikers en me. Santie en mnr. Chris Radley se selfone raak nie stil nie.

Boodskappe van medelye stroom in, terwyl die ouerpaar leeg-gehuil probeer sin maak uit die mesdood van hul seun.

Mnr. Radley het die gebeure tussen 30 April en 1 Mei uiteengesit.

“Johan het omtrent 23:30 by die geriefswinkel by ’n plaaslike garage gestop om iets te koop. ’n Onderonsie oor voertuie wat voor hom gestop het, het ontstaan. Van my werkers het die stryery gesien, gestop en Johan te hulp gesnel.”

Mnr. David Mokoena het petrol gaan ingooi toe hy Fourie herken het.

“Toe ek by Johan kom was die bakleiery klaar oor en Johan en die man het hand geskud. Daar het ’n wit Volkswagen Polo gestop en daardie mense van daardie kar het weer met Johan baklei. Die man het vir my geskree, ‘Jy is swart hoekom help jy die witman?’ Tussen die snikke het Mokoena se stem weer hoorbaar geword, “Ek het ‘getry’. Ek het regtig hard ‘getry’, maar ek kon my tjommie red nie. Daardie mans het my gesteek, terwyl ek oor Johan gebuk het om hom veilig te hou.”

Terwyl Mokoena probeer het om Fourie te beskerm, is hy sewe keer genadeloos gesteek.

“Voor my het hulle my tjommie doodgesteek…”

Mokoena het ’n rukkie stilgebly en toe gesê, “Daardie mense is goddeloos en harteloos. Hulle het nie gehuiwer om Johan dood te maak nie. Tussen my en Johan was daar nie kleur nie, dit was nie swart of wit nie, ons was vriende.”

Fourie se ouers was aan die slaap toe hulle die oproep kry dat hy seergekry het.

“Chris het skaars gestop toe is ek uit. Daar was ’n flou liggie wat op Johan geskyn het. Ek het hom net vasgehou, oor en oor gesoen en heeltyd met hom gepraat. My kop het geweet hy is weg, maar ek het aangehou bid. Ek het God gesmeek om hom vir my terug te gee. Ek het Johan gesmeek om sy oë oop te maak. My seun se bloed het uit sy wonde gesypel en my gevlek. Sy dood het my doodgemaak,” het me. Radley gesê.

“Johan was ’n legende. Hy was almal se vriend. Hy het jou altyd met die hand gegroet,” het mnr. Radley gesê.

“Hy was ’n drukkie-kind. Hy het almal alewig drukkies gegee,” het sy ma die sin klaargemaak.

Polisiewoordvoerder, konst. Angel Makubu het gesê ’n derde verdagte is ook in hegtenis geneem.

Die verdagtes het Maandag 6 Mei in Kriel Landdroshof verskyn op aanklag van moord wat teen hulle ondersoek word.

Back to top button