CrimeNews

Saak van strafbare manslag word ondersoek na ongeluk

’n Saak van strafbare manslag word teen die bestuurder van die minibus ondersoek

Die onvermydelike het verlede week gebeur.

Die bedelaar by die OR Tambo- en Amsterdamstraat-kruising is op Woensdag, 30 Januarie raakgery.

Me. Dora Theunissen is na Witbank Hospitaal gehaas nadat ’n Toyota Quantum minibus ’n motor aan die kant verbygesteek het wat gestop het omdat die verkeerslig rooi was.

Die minibus het uitgeswaai vir Dora wat in die pad gestaan het en ’n blou Kia getref. In die warboel is Dora ook getref.

Mnr. Manie Venter, die bestuurder van die blou Kia is ’n dag na die ongeluk in Life Cosmos Hospitaal oorlede.

Sy vrou, me. Martie Venter was teen Maandag, 4 Februarie nog onder verdowing en aan ’n ventilator gekoppel.

Hulle seun, mnr. Marius Venter het gesê sy ma is stabiel.

Marius het gesê dat daar nog geen begrafnisreëlings vir sy pa gemaak is nie, omdat hulle wag tot sy ma die begrafnis ook kan bywoon.

Theunissen is Dinsdag 5 Februarie uit die hospitaal ontslaan.

Theunissen se seun, Kayden bly tans by sy ouma, me. Charlotte van der Sandt.

Sy blou ogies het opgewonde opgehelder toe hy vertel dat hy by sy mamma in die hospitaal gaan kuier het en dit goed gaan met haar.

Hy is baie bly dat sy nou weer by die huis is.

’n Saak van strafbare manslag word teen die bestuurder van die minibus ondersoek.

Hy en sy passasier was ook in Witbank Hospitaal opgeneem na die ongeluk.

Hulle is albei intussen ontslaan.

Die bestuurder het gesê hy kan nie onthou hoe die ongeluk gebeur het nie.

LEES MEER: OPVOLG: Bid vir Tannie Martie https://www.citizen.co.za/witbank-news/120317/opvolg-bid-vir-tannie-martie-2/

LEES MEER: OPVOLG: Dit gaan beter met Dora https://www.citizen.co.za/witbank-news/120289/opvolg-dit-gaan-beter-met-dora/

Back to top button