CrimeNewsUpdate

Polisie het aanvaller nog nie kom skets nie

“Die nagmerries jaag my nog steeds. Ek sien elke dag hulle gesigte, ek ruik hulle, hulle is nog steeds in my kop,” dis wanneer rou snikke deur me. Rina Fourie skeur.

Dis al vier weke na die sinnelose aanval op Fourie en haar verloofde mnr. Deon van der Merwe by die boshut by Pienaarsdam en steeds is hul aanvallers op vrye voet.

Dit is veral op die een verdagte wat Van der Merwe op 7 Maart vier keer met ’n hamer oor die kop geslaan het, waarop die kollig lê.
Mduduzi Nkosi, het in Desember 2009 ontsnap terwyl hy verhoorafwagtend was op roofsake. Skaars 12 dae na sy ontsnapping word hy verbind met ’n plaasaanval waar hy die slagoffer met ’n hamer aangeval het. Op 22 Januarie is hy verbind met nog ’n plaasaanval waartydens mnr. Johan Venter doodgeskiet en sy vrou Rentia ernstig gewond was.

Hy is in Carolina gevang, maar het die gereg weereens ontglip toe hy in 2013 uit die polisieselle in Middelburg ontsnap het.
Fourie het gesê die ondersoekbeampte was verlede week by haar om nog verklarings te kom kry.

Maar wat haar ontstel is dat sy die man wat haar en Van der Merwe met die panga aangeval het, in fyn detail kan beskryf en tot op hede het die polisie nog nie ’n gesigsamestelling van die verdagte kon skets nie.
“Die panga-man het ’n bokbaardjie. Die hamer-man het ’n snor,” het sy gesê en Nkosi as die hamer-aanvaller herken op ’n foto wat vir hulle aangestuur is.

Supt. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder het gesê hy sal opvolg en uitvind hoekom iemand nog nie gestuur is om ’n gesigsamestelling te doen nie.

Kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) het gesê die polisie soek onverpoos na Nkosi en daar is hoop dat hy binnekort weer gearresteer sal word.

Kapt Zwane. het genoem hulle het inligting opgevolg en ’n man gearresteer wat op ’n haar na Nkosi lyk. Dié man is vrygelaat toe agtergekom is, hy is nie Nkosi nie.

Vir Fourie het die lang pad na emosionele herstel nou eers begin. Sy het gesê niemand verstaan hoe daardie nag haar hele lewe verander het nie.
“Ek moes verlede week inkopies gaan doen, Deon het my vroeg by die winkels afgelaai. Dit was hel.”

Sy het tussen die trane deur probeer skets hoe dit voel wanneer almal soos haar aanvallers begin lyk.
“Ek het hulle oral gesien, tussen die winkelrakke, tussen die mense, tussen die klere, hulle staan oral en grynslag. Dis om van mal te word,” het sy gesê en haar oë styf toegeknyp.

Fourie het nog nie vir berading gegaan nie. Sy het gesê sy is ’n depressielyer, maar al haar medikasie is die nag van die aanval deurmekaar gegooi.
“Ek gebruik nie nou medikasie nie. Ek moet eers by ’n dokter uitkom en weer ’n voorskrif kry. Ek belowe ek sal dan sommer vra vir ’n verwysingsbrief om ’n kopdoker te gaan sien,” het sy gesê.

Back to top button