CrimeNews

Nog ’n venster uitgeslaan by verkeerslig

Dit is net nie meer veilig om saans op die pad te wees nie.

Dit is net nie meer veilig om saans op die pad te wees nie.

’n Week nadat me. Cathy Joannou se karvenster uitgeslaan en ’n dief probeer het om haar handsak te gryp, het nog ’n motoris deurgeloop.

Mnr. Jaco Stark was Vrydag, 12 Januarie omstreeks 20:30 op pad terug huis toe en het gesien hoe ’n man agter om sy kar loop terwyl hy by die verkeerslig in Mandelastraat by die afrit na Middelburg gewag het vir die lig om groen te slaan.

Sekondes daarna is sy kar se venster uitgeslaan en het die dief sy selfoon gegryp. Stark het die dief, wat amper met sy hele lyf in die kar was, vasgegryp, maar hy het uit sy greep geglip.

“Ek was besig om met Jaco op ‘bluetooth’ te praat toe ek geluide hoor, gevolg deur ’n harde stampgeluid. Ek het gedink Jaco was in ’n ongeluk,” het me. Amorie Stark vertel.

Skaars ’n uur later het die selfoon se opsporingtoepassing aangedui dat die selfoon in Mamelodi aangesit is. Sondag 14 Januarie is die selfoon se sein by die Oriental Plaza opgetel.


Mnr. Jaco Stark se karvenster is ook uitgeslaan terwyl hy gesit en wag het vir die verkeerslig om groen te slaan.

Joannou was Vrydag, 5 Januarie ongeveer 20:30 op pad terug van ’n ete af huis toe. Omdat sy in Reynorif bly het sy in Mandelastraat na Paul Sauerstraat gery. By die laaste verkeerslig by die afrit na die Pretoria en Johannesburg snelweë was ’n trok besig om stadig te draai.

Die ander motors agter haar het linksom gery. Toe die verkeerslig rooi slaan was haar kar die enigste wat nog daar gestaan het.

“Vanuit nêrens nie het ’n man iets na my venster toe gegooi. Die karvenster het nie heeltemal uitmekaargespat nie, maar die man het nog steeds gekom en die stukke venster met sy hande uitgeruk. Hy het homself deur die venster gewurm en na my handsak gegryp wat op die passasiersitplek was,” het Joannou vertel.

Sy het met alle mag haar handsak terug gepluk en met haar skouer op die kar se toeter gedruk terwyl sy die man met haar vuiste toegetakel het.

Gelukkig het daar jong mans in ’n Golf agter haar gestop en dit het die dief afgeskrik.

LEES OOK

https://www.citizen.co.za/witbank-news/39132/dit-is-hartseer-om-te-dink-dat-mense-so-desperaat-is-om-van-kerke-te-steel/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/91230/inbrake-vier-hoogty/

Back to top button