SportSportSport

85-jarige Vaal se Parkrun-guru

Oom Peet weet iets wat ons nie weet

VANDERBIJLPARK – Op 85-jarige ouderdom is oom Peet Fourie ‘n inspirasie vir oud en jonk.

Met 277 Parkruns (5km sosiale wedlope) op sy kerfstok laat hy meeste sterflinge wonder of daar iewers in die Vaal ‘n fontein van ewige jeug versteek is.

Wat Oom Peet se storie so uniek maak is dat hy die eerste keer op die rype ouderdom van 79 sy eerste Parkrun voltooi het.

Peet Fourie

“My seun het my verras en my saamgevat vir my eerste Parkrun by Heron Banks. Ek het nie geweet wat dit is nie,” vertel hy.

Nou is hy ‘n Parkrun Guru wat al meer as 131 verskillende Parkruns in SuidAfrika kaf gedraf het.

Sy eerste wedloop het hy in 46 minute en 23 sekondes afgelê, maar is iets wat nie aanklank by sy mededingende natuur gevind het nie.

Skaars ‘n week later het hy sy tyd met twee minute verbeter en vandag spog hy met ‘n persoonlike beste tyd van 31 minute en vyf sekondes. Hy erken ruiterlik dat hy nie daarvan hou om te verloor nie.

“Ek is maar ‘n haastige mens. As ek loop, loop ek vinning. Ek was al op bustoere, maar ek raak gou gefrustreerd as mense stadig beweeg,” skerts hy.

Wanneer daar ‘n nuwe Parkrun ingelyf word is daar net geelpette te sien. Die geelpette word uitgeloof aan atlete wat 100 runs of meer voltooi het.

Oom Peet staan egter nog meer in die uitgelese geselskap uit. Hy dra trots ‘n geel T-hemp waarop al die verskillende Parkruns alfabeties aangedui word.

Hoewel sy gunsteling Parkrun Century City in die Kaap is, lê Ventersburg sy geboortedorp se Parkrun hom na aan die hart.

“Ek het 82 jaar na my geboorte die Parkrun daar gedoen,” vertel hy breëbors. “Ek het soveel mense ontmoet en nuwe vriende gemaak. Almal ken my al by die Parkruns.”

Hy is beskeie, maar ‘n man van vele talente. Talente wat soms deur ingryping deur ‘n hoër gesag ontkiem is.

Min mense weet dat hy in 1955 as die Vrystaat-stoeikampioen in sy gewigsafdeling gekroon is.

“Ek het nie eers geweet daar’s ‘n stoeiklub op die dorp nie. Ek het by die munisipale swembad met ‘n vriend gestoei.

Nadat hy my dubbel en dwars gevou het, het hy voorgestel ek moet begin stoei.”

En die res is geskiedenis. Hoewel hy ook ‘n kranige gimnas was, het die langpadgogga hom eers later gebyt.

Hy is verlede jaar as ArcelorMittal Atletiekklub se Landloopatleet van die Jaar aangewys en vanjaar het hy weer die SA Landloopkampioenskap in sy ouderdomsgroep gewen.

Hy is voorwaar ‘n voorbeeld en inspirasie vir ons almal. Ouderdom is net ‘n nommer.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button