Valia se oorlogmasjien is goed ge-olie

Alles dui daarop dat Valia die kwartaal gaan afsluit met 'n voltal van 20 punte

VANDERBIJLPARK. – Die Ligblou oorlogmasjien van die HS Transvalia spog met drie opeenvolgende oorwinnings in die Noordvaal-kompetisie se plaat-afdeling nadat hy die eerste rugbyspan van die Hoërskool Kempton Park Saterdag 18 Mei oortuigend met 50-33 geklop het.

Lloyd Greeff se span het volpunte in elke kragmeting verdien en is tans bo-aan die punteleer met 15 punte.

“Ek is baie tevrede met ons vertoning teen Kempton. Die inkoop van die spelers, ouers en afrigtingspan is ongelooflik. Ek sal nooit genoeg dankie kan sê nie. Baie stukke van die legkaart moet in plek val om die skip te laat seil.

Daar het een of twee dinge in die wedstryd gebeur wat nog nie die seisoen met ons gebeur het nie. “Ek is bly dit het nou gebeur. Dis beslis iets wat ons kan regstel. Ek is baie opgewonde. Ek dink die spelers het nog baie in hulle arsenaal wat na vore sal kom.”

Wihandré Kruger van Valia hardloop op die veld.

Daar is ‘n geykte uitdrukking dat jy speel soos jy voorberei. En dit is juis nou die vrugte wat gepluk word van ‘n suksesvolle afseisoen en kodisioneringsprogram. Met die nasionale jeugweke wat eersdaags afskop eis die ekstra oefenwedstryde gewoonlik sy tol op die spelers se lywe.

“Ons is geseën dat die senior groep beseringsvry is. Dit gebeur nie elke jaar nie. Dis ‘n seën om hierdie tyd van die jaar beseringvry te wees. Ons hoop die beseringspook sal wegbly. Die groot uitdaging is om die spelers gesond en beseringvry te hou.

Siya Khambule op die aanval.

Ons het baie tyd aan ons kondisionering spandeer. Die tyd en inspanning wat op hulle en af van die veld ingesit het, is ongelooflik. Ek haal my hoed vir hulle af,” sê Greeff. Sedert Lloyd en AJ le Roux, Transvalia se direkteur van rugby, kragte saamgesnoer het, is daar ‘n hernieude trots om die Ligbloutrui oor die kop te trek. Saterdag wil Greeff-hulle die kwartaal op ‘n wennoot en met 20 tabelpunte in die bank afsluit.

Daniel Kazambo van die voordeellyn met mening aan.

“Ons is besig om Middelburg se wedstryde te analiseer en te kyk wat ons kan uitbuit en wat ons vir hulle kan moeilik maak. Ons wil die kwartaal met ‘n goeie wen afsluit. Ons wil Tarnsvalia se pawiljoen vol maak. Ek glo die Ligblou sal weer seëvier. Die veggees in hierdie groep is iets spesiaal. Die spelers is gemaklik in ongemaklike situasies en dit gaan in ons guns tel. ”

Daars nog ‘n cliché dat sukses kweek sukses maar in hierdie geval is dit beslis van toepassing. Net soos ‘n goeie skermmaat van kardinale belang is vir ‘n bokser, so ook verdien die tweede rugbyspan van Valia spesiale vermelding. Hulle is tans ook op die punteleer en spog met drie agtereenvolgende seges.

“Hulle werk saam met ons hard en is deel van die groter prentjie en ons sukses,” gee Greeff te kenne.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version