SportSportSportSport

Nou vir die heel grote

Saterdag gaan die kalk en hare spat wanneer die top spanne in die reeks mekaar aandurf

VANDERBIJLPARK. –  Op Saterdag 18 Mei het die HS Transvala se rugbyspanne hul stempel duidelik afgedruk in ‘n magtige vertoning teen Kempton Park in die SDC Noordvaal se Plaatkompetisie. Die toon was reeds geset toe die o.14 A-span op die veld gedraf het en ‘n groep entoesiastiese ouers met onblusbare geesdrif en ondersteuning die span ondersteun het.

In die laaste minute van die wedstryd het die stut, Wian Bezuidenhout, die ondersteuners met energie en vasberadenheid soos dié van Hestrie Cloete net voor sy oor die lat spring, aangespoor.

Die Valia-spelers het ná die wedstryd bevestig dat hulle in die skrums saam met die toeskouers begin sing het. Die onmiskenbare gees op die pawiljoen het hulle daardie ekstra dryfkrag gegee om ‘n skitter sege met 27-15 oor ʼn sterbelaaide Kempton Park te behaal.

Eerskomende Saterdag beloof om dié naweek van die liga te wees wanneer Valia teen HS Middelburg te staan kom. Beide skole se spanne lê onderskeidelik in die eerste en tweede posisies. Valia is bo-aan die algehele punteleer.

“Hierdie oorwinning, ‘n getuie van spanwerk en gemeenskapsgees, sal beslis in die geheue van beide spelers en ondersteuners gegraveer bly. Valia het nie net ‘n wedstryd gewen nie, maar ook die harte van hul aanhangers opnuut verower,” sê Basil Nunes, een van die o.14-spelers se ouers.

*Valia nooi die gemeenskap uit om die naweek geklee in rooi of blou van 8:00 tot die eerstespan se wedstryd te kom ondersteun.

Back to top button