Bomenslike vertoning deur die Vaal se eie Zola Budd

Xanté oorkom groot struikelblokke om haar drome te bewaarheid

VEREENIGING. – F-E-N-O-M-I-N-AA-L!

Dis al hoe ‘n mens die 13-jarige Xanté Harris se vyfstervertoning by vanjaar se Suid-Afrikaanse Atletiek Kampioenskap in Polokwane kan beskryf.

Sy is onderskeidelik as die 800 m en 1 500 m SA-kampioen gekroon nadat sy alle teenstand in rekordtye verpletter het.

Xante in aksie

Die video-opnames van haar seges gee mens hoendervel van kop tot tone. Die wyse waarop sy kat-en-muis met haar teenstanders gespeel het voordat sy hulle kisboude gehardloop het, was ‘n belewenis. Sy het die 800 m in ‘n rekordtyd van 2:14.91 afgeblits.

‘n Breukdeel van ‘n sekonde vinniger as die bestaande rekord wat 21 jaar gelede opgestel is. Sy was egter sowat vyf sekondes vinniger as haar naaste teenstander. “Ek wens ek kon daardie windspoed met haar 800 m meet. Die wind was so sterk, sy was nie veronderstel om die rekord te verbeter nie. Sy het dit met ‘n honderdste van ‘n sekonde gebreek. Hoe? Dit was net die Here se wil.

Dit was ‘n bomenslike vertoning. Sy het al by die 300 m begin aanval, toe skreeu ek vir haar sy is te vinnig, maar sy het die pas volgehou,” het Carien Scott, haar afrigter van die afgelope vyf jaar gesê. In haar gunsteling afstand, die 1 500 m het sy ‘n strategiese wedloop soos min gehardloop om in ‘n rekordtyd van 4:37.84 oor die wenstreep te blits, sowat sewe sekondes vinniger as haar Gauteng-spanmaat, Chanene Barnard. Die vorige rekord is in 2004 in Germiston deur A. Nice opgestel.

“Ek het dit glad nie verwag nie. God het hierdie vermoëns vir my gegee,” gee Xante beskeie te kenne. As mens in ag neem dat Xante, ‘n leerling aan die Laerskool Vryheidsmonument, die seisoen ses weke lank met ‘n voetbesering gesukkel het, maak dit haar prestasies soveel meer uitsonderlik.

“Sy kon nie eers aan die huissport deelneem nie so seer was daardie voet. Ons het die voet gefisio, ge-ys, gerus… ge-als en toe vind daar gebedsverhoring plaas. Een week voor die D7 was die pyn weg,” vertel Scott. Volgens Scott moet Xante in watte toegedraai word, want daar lê nog groot dinge vir haar voor. Sy gaan aanstaande jaar haar hoërskoolloopbaan by Potchefstroom Gimnasium afskop.

Maar hoekom nou juis middel- en langafstande? “Ek hou van die gevoel in my bene. Dit laat my elke dag met baie suurstof opstaan. Hoewel sy in die kompetisiefase ‘n streng dieet volg en sy ses dae per week oefen, eet sy graag op haar “cheat days” pizza soos enige normale tiener. Maar almal wat haar ken, weet sy is alles behalwe normaal, sy is fenominaal.

Exit mobile version