Valie genooi om Usyk te laat kerm as hul skerm

Die Vaaldriehoker Ruann Visser het al sy staal as skermmaat teen die beste swaargewigboksers in die wêreld gewys en hy is vasberade om 2024 sy terugkeer tot die kryt te maak

VANDERBIJLPARK. – Die opkomende swaargewigboksgeveg tussen Tyson Fury en Oleksandr  Usyk om die onderskeie wêreldtitels te verenig word as die grootste boksgeveg sedert die Rumble in the Jungle in 1974 bestempel.

Daar word tot vandag toe nog oor dié epiese geveg in Kinshasa, Zaïre tussen Mohammed Ali en George Foreman gepraat.

Die Vaaldriehoek gaan ook deel in dié stukkie geskiedenis wanneer die 35-jarige Brit Tyson Fury en die Oekraïener Oleksandr Usyk op Saterdag 17 Februarie in die Kingdom Arena in Riyadh,  Saudië Arabië deur die toue klim.

Die gebore en getoë Vaaldriehoeker, Ruann Visser, is tans Valencia, Spanje om Usyk te help voorberei vir sy geveg teen Fury. Die 36-jarige Usyk is tans die WBA, WBO, IBF en IBO-kampioen. Fury is die WBA-kampioen.

Ruann, is ‘n voormalige Suid-Afrikaanse Swaargewigbokskampioen, en is die perfekte skermmaat vir Usyk. Visser wat  2.07cm in sy sokkies staan en die skaal op 120kg vastrap het al teen WladImir Klitschko, Francis Ngannou, Joe Joyce en Bermane Stiverne geskerm.

Ruann Visser besig om te oefen.

Fury is 206cm lank en weeg 126kg en menigte kenners meen dat sy fisiekheid die skaal in sy guns gaan swaai. Usyk (191 cm en 100 kg) is heelwat kleiner as Fury maar is tegnies een van die beste boksers in die gewigsklas.

Hoewel Ngannou onlangs met punte teen Fury verloor het, het hy die leemtes in die Brit se mondering oopgevlek en hom baie ordinêr laat lyk.

Visser of die Giant King soos hy bekendstaan gaan glo eersdaags sy terugkeer tot die kryt maak, maar vir eers gaan hy in Spanje wys waartoe hy instaat is.

“Ek het die laaste vier jaar baie meer volwasse geraak. My liggaam en kop is sterker. Ek is nie meer lomp nie en glad nie meer bang of skrikkerig nie. Ek is nou gereed vir die tweede gedeelte van my loopbaan. Gisteraand (8 Januarie) was die eerste  skermsessie en dit het baie goed gegaan.

Ek het eerste teen hom (Usyk) vir vier rondtes geskerm. Die ander vyf skermmaats het net twee rondtes teen hom geskerm. Die Usyk-oefenkamp is baie soos Klitschko sʼn. Hy (Usyk) is ook deel van Klitschko se K2 Promotions so hulle volg baie dieselfde roetine en oefen metodes,” gee die Valie te kenne.

Daar is nog vyf weke oor van die oefenkamp, maar Ruann het reeds sy stempel afgedruk. “Ek het goed teen hom gevaar en hom heeltyd op die agtervoet gehou. Hy is nie so sterk nie maar sy aanvalshoeke is baie goed en hy is baie besig in die kryt.”

Volgens die oud-Meyertonner wil hy vanjaar minstens ses of sewe keer veg. Sy beplanning om einde Februarie deur die toue te klim, kan in die wiele gery word omdat hy weer gevra is om Ngannou te help om vir sy geveg op 8 Maart in Saudië Arabië teen Anthony Joshua voor te berei.

Maar dis alles goeie publisiteit.

“Daar is sprake dat ek ʼn voorgeveg in Saudië Arabië kan kry. As hulle my nou bel sal ek enige plek in die wêreld veg. Usyk se bestuurspan is ook baie beïndruk met my en daar is sprake dat hulle my loopbaan wil bestuur.

“Om te trou en pa te word was die beste ding wat met kon gebeur het. “Ek het nou ʼn rede om te veg. Ek is gefokus. Ek oefen harder as ooit en volg geen kortpaaie nie.

Exit mobile version